Terwyl talle Protea-ondersteuners heimlik hoop dat AB de Villiers wél Meimaand sy tasse vir Engeland sal pak, blyk dit dat die internasionale superster inderdaad op pad is na die Verenigde Koninkryk, maar nie in die hoedanigheid wat ondersteuners in gedagte het nie.
In plaas daarvan om in die groen en goud van die Proteas uit te draf, is daar ’n moontlikheid dat hy eerder sy kolftoorkuns in die pienk en blou van Middlesex gaan uitstal.
Luidens SA Cricket Magazine het die 35-jarige De Villiers vermoedelik ’n kontrak met dié Engelse graafskap onderteken vir die komende T20 Blast-toernooi in Engeland.
Die toernooi begin slegs vier dae ná die wêreldbekereindstryd op Lord’s beslis is.
De Villiers is tans by die Pakistan Superliga betrokke, waar hy vir die Lahore Qalandars speel. Hy het tot dusver 138 lopies in vyf kolfbeurte teen ’n treftempo van 139.39 geslaan.
Hy het egter sy rug in die laaste kragmeting seergemaak.
Nóg ’n vergete Suid-Afrikaner, Collin Ingram, se spelpeil is witwarm vir die Karachi Kings.
Ingram het al ’n onoorwonne honderdtal (127*) geslaan en kolf teen ’n treftempo van 178.94.
Nee wat, AB is slim genoeg om weg te bly van die Protea klugspel.
En AB het opgehou om meer tyd saam familie te wees? Val nie daarvoor nie.