AB het hom misgis met sy beserings

AB de Villiers. Foto: Michael Sherman/ANA

AB de Villiers. Foto: Michael Sherman/ANA

Die Proteas se kaptein, AB de Villiers, het erken hy het hom misgis dat ʼn mens, ondanks beserings, net kan aanhou speel.

Hy kan weens ʼn beseerde elmboog nie in die tweetoets-reeks teen Nieu-Seeland, wat Vrydag in Durban begin, speel nie.

Baie krieket het sy tol geëis. De Villiers het nie net ʼn beseerde elmboog wat al agt maande lol nie, maar ook vyf of ses ander skete wat hom pla, het hy aan die gesaghebbende webwerf Cricinfo erken.

Die beserings het hom nou ingehaal en hy sal die twee toetswedstryde misloop.

Sy skoolmaat op Affies in Pretoria, Faf du Plessis, sal in die reeks vir hom as kaptein instaan.

De Villiers sê bespiegelinge dat hy moontlik uit sommige van die drie krieketsoorte gaan tree om sodoende sy werkslas te verlig, is nie waar nie.

“Ek wil graag vir my land speel en wil so lank as moontlik daarmee aanhou. ʼn Mens moet na jou liggaam omsien en dit is wat die volgende ses weke gaan gebeur. Hopelik sal ek na die Nieu-Seelandse reeks reg wees om in Oktober teen die Aussies te speel.

“Daar is oor sewe weke ʼn wedstryd teen Ierland. Dit is ʼn goeie geleentheid om vas te stel wat my fisiese toestand is.”

Die Suid-Afrikaanse krieketspan sal daarná vir tien maande baie besig wees met toere na Australië, Nieu-Seeland en Engeland en ʼn tuisreeks teen Sri-Lanka.

Hierdie reekse is vir die Proteas baie belangrik nadat hulle sedert die aanvang van die toetsreeks teen Engeland in Desember en Januarie, nog nommer een op die toetsranglys was, maar nou na nommer sewe teruggesak het.

Die span word verder beproef deur die politieke druk om die voorgeskryfde aantal  gekleurde spelers te kies, wat dit moeiliker kan maak om die fyn balans van die elftal reg te kry.

Om voor te berei vir die uitdagings wat voorlê, is ʼn kamp gehou waar alle spelers ingesluit is wat moontlik oor die volgende paar jaar vir die Proteas mag speel. Daar is openhartig gepraat oor die teleurstellende vertonings, die pad vorentoe en die kernwaardes van die span.

ʼn Aspek wat uitgelig is, is die span se geneigdheid om veral ná ʼn afseisoen stadig te begin. Die span het laas in Junie gespeel en laas in Januarie ʼn toets gespeel en wil dié gewoonte afleer. Groter positiwiteit is nodig om die wedstryd van meet af te domineer.

De Villiers sê die kamp het die spelers bymekaar gebring en hulle sal positiewe krieket speel.

♦  Die span het Sondag saam begin oefen, in teenstelling met die Kiwi’s wat ʼn maand in Zimbabwe was, waar hulle toetswedstryde gespeel het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.