AB se vyftigtal tevergeefs, Kohli kwáád

AB de Villiers laat waai met nog n ses. Foto: Cricinfo.

Indië en die Royal Challengers Bangalore se kaptein, Virat Kohli, is op die beste van tye ’n passievolle krieketspeler wat nie van sy hart ’n moordkuil maak nie.

Maar as die skeidsregters droogmaak, dan word Kohli kwáád.

Met sy span wat Donderdag ses lopies van die laaste boulbeurt benodig het om ’n super boulbeurt teen die Mumbai Indians af te dwing, het die skeidsregter ’n duidelike foutbal vir Mumbai se Lasith Malinga misgekyk.

Kohli het S Ravi se fout op die grootskerm gesien en vies in die skeidsregter se rigting beduie.

Indien Ravi die foutbal raakgesien het en RCB ’n enkellopie van dié aflewering gekry het, sou AB de Villiers (wat reeds tien grenshoue in sy beurt geslaan het) vyf lopies van die daaropvolgende aflewering moes slaan vir die super boulbeurt. Of ses lopies om die kragmeting vir RCB te beklink. In mik-en-moker-krieket kan ’n kolwer nie op die aflewering ná ’n foutbal uitgegee word nie.

Maar helaas was dit nie die geval nie.

Virat Kohli was duidelik ongelukkig met die stand van sake. Foto: Cricinfo.

“Ons speel IPL-krieket en definitief nie klubkrieket nie,” het ’n ontstoke Kohli ná die tyd vir Ian Bishop oor dié blaps gesê.

“Dit is net ’n belaglike fout en dít boonop op die laaste bal van die wedstryd. Die skeidsregters moet hulle oë oophou – dit was ’n reusefoutbal. Hulle moet skerper en meer gefokus op die veld wees.”

Voor dié drama het Suid-Afrika se De Villiers vlamgevat met ’n goeie beurt van 70* van 41 aflewerings. Hy het gesorg dat RCB se vuur bly brand en het ses sesse in sy warrelwindbeurt geslaan.

RCB moes 17 lopies van die laaste boulbeurt kry om te wen, maar Malinga (en die skeidsregter) het ’n stokkie hiervoor gesteek.

  • Quinton de Kock, wat die kolfwerk vir Mumbai geopen het, het 23 lopies van 20 aflewerings geslaan.
  • Mumbai Indians 187/8 in 20 boulbeurte
  • Royal Challengers Bangalore 181/5 in 20 boulbeurte
  • De Villiers is weer Sondag in aksie wanneer RCB teen die Sunrisers Hyderabad speel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jack Russl ·

Kohli met sy tantrums.

Ja, die skeidsregters maak foute, hulle is ook mense. Dit is die rede hoekom IKR die tegnologie inbring, dieselfde tegnologie waarteen Kohli en kie so gekant is. Wat wil hy nou eintlik he? Dis onaanvaarbaar dat skeidsregters foute maak, maar ons het ‘n stelsel wat kan help om foute uit te skakel, maar India is gekant teen die stelsel.

Ek dink Kohli is ‘n baie talentvolle krieketspeler, een van die bestes. MAAR ek kan hom nie verdra nie, hy het altyd ‘n probleem met iets en dan gooi hy sy toys.

Ek dink ook meer kan gedoen word om besluite van skeidsregters reg te kry. ‘n Balans moet net gekry word. Die spel kan nie elke bal gestop word om te kyk vir moontlike foute nie. Dan gaan “kits-krieket” nie meer so kits wees nie.

Skeidsregters maak foute, maar aanvaar dan die prosesse wat in plek gesit word om dit uit te skakel. Moenie een dag kla oor DRS en dan die volgende dag oor ‘n skeidsregter ‘n fout maak nie.

As my seuns wil wees soos Kohli sal ek hulle laat verstaan dat hulle moet kyk hoe hy kolf en nie wat hy verder op die veld doen nie, want dit is nie ‘n rolmodel vir opkomende spelers nie

Stem saam ·

Ek stem saam, ek kan die vent nie verdra nie. Hy is een van daardie mense na wie ek nie eers kan kyk nie. Hy is ‘n baie goeie kolwer maar sy houding irriteer die grond uit my uit.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.