Afrikaspele: SA ryg steeds medaljes in

Ryan Gibbons en Kent Main. Foto: TeamSA/Twitter

Suid-Afrika laat steeds die medaljes inrol by die Afrikaspele in Marokko.

Die fietsryer Ryan Gibbons het Maandag goud gewen in die individuele tydtoets vir mans. Nog ʼn Suid-Afrikaner, Kent Main, het die silwermedalje gewen.

Die vroue-item het dieselfde uitslag gehad met die Suid-Afrikaners Ashleigh Moolman-Pasio wat goud gevat het en Zanri Rossouw wat die silwermedalje gewen het.

Dit volg nadat die mans- en vrouespan in die tydtoets vir spanne albei met goud weggery het. Carla Oberholzer, Tiffany Keep, Rossouw en Maroesjka Matthee het goud in 48 minute 43 sekondes gewen. Die manspan van Main, Gibbons, Jayde Julius en Jason Oosthuizen, het hul goue medalje in ʼn uur en 8 minute gewen.

Zanri Rossouw en Asleigh Moolman-Pasio. Foto: TeamSA/Twitter

Tiffany Keep het verlede week Suid-Afrika se eerste medalje in die fietsry-items gewen toe sy goud in die veldren van 22,8km gewen het. Sy het dit in 1 uur, 19 minute en 15.3 sekondes gedoen.

Suid-Afrika se gemengde pluimbalspan het vroeër ʼn bronsmedalje gewen nadat hulle teen Algerië vasgeval het.

Chanel Simmonds het intussen deurgedring na die volgende ronde van die vroue-enkelspel nadat sy Marokko se Rania Azziz met 6-2 6-1 geklop het.

Op die atletiekbaan het Tebogo Mamathu haar 100 m-uitdun in ʼn tyd van 11.55 gewen om vir die halfeindronde te kwalifiseer. Chederick van Wyk, Thando Dlodlo en Henricho Bruintjies het al drie vir die 100 m vir mans se halfeindronde gekwalifiseer.

Suid-Afrika het sy swemveldtog die naweek met 45 medaljes (20 goud, 13 silwer en 12 brons) afgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.