Ahmed sê jammer vir gewraakte kommentaar

Sarfraz Ahmed (links) tydens ’n vorige perskonferensie saam met Nieu-Seeland se Kane Williams. Ahmed, Pakistan se kaptein, het op Twitter verskoning vir sy kommentaar in die tweede eendagwedstryd teen Suid-Afrika gemaak. Foto: Cricinfo.

Die beleërde Pakistanse krieketkaptein, Sarfraz Ahmed, het hom tot Twitter gewend om verskoning vir sy aanmerking in die tweede eendagwedstryd teen die Proteas te vra.

Met Suid-Afrika op 80/5, het Pakistan bloed geruik, maar met Andile Phehlukwayo en Rassie van der Dussen voor die paaltjies, het hulle die wa deur die drif getrek met ’n onoorwonne vennootskap van 127 lopies. Veral Phehlukwayo was ’n doring in Pakistan se vlees en die geluksgodin was ’n paar keer aan sy kant.

’n Erg frustreerde Ahmed het in die 37ste boulbeurt iets in Urdu gebrom en sy aanmerking is deur die paaltjiemikrofoon opgevang.

Dit word losweg na “Hey swart man, waar sit jou ma vandag? Watter gebedjie moet sy vandag vir jou opsê” vertaal. Dit is geuiter pas ná Phehlukwayo nog ’n gewaagde enkellopie gekry het.

Hoewel die opmerking duidelik nie vir Phehlukwayo veel geskeel het nie, is die krieketwêreld aan’t gons oor die voorval.

Ahmed het Woensdag op sy Twitter-rekening gesê dat hy hoegenaamd nie bedoel het om iemand te onstel nie en dat hy opreg verskoning wil vra vir enige iemand wat as gevolg van sy frustreerde uitdrukking aanstoot geneem het.

“Die idee was nie eens dat my woorde deur die teenstanders of krieketaanhangers gehoor of verstaan of aan hulle gekommunikeer moes word nie. Ek het in die verlede en sal steeds in die toekoms die kameraderie van my medekrieketspelers waardeer,” het hy gesê.

Die Pakistanse Krieketraad het in ’n verklaring hul misnoeë met Ahmed se aanmerking te kenne gegee.

“Die raad keur nie enige kommentaar goed wat moontlik kan aanstoot gee nie. Ons beklemtoom weer eens dat ons nie rassistiese kommentaar sal duld nie – maak nie saak in watter konteks dit gesê is nie.”

Intussen het die Internasionale Krieketraad bevestig dat hulle bewus is van die insident.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

B-man ·

So what? As dit as rassisme gesien kan word, is die wêreld verskriklik vyngevoelig.

marco polo ·

Die gewraakte S-woord. Is daar dan enige beskrywing van n Afrikaan wat vir hulle aanvaarbaar is?

koos ·

Nou waar is die EFF en DA nou? Ek sien hulle het nie persverklarings uitreik nie of klippe gegooi nie! Is dit omdat Ahmed nie is SA burger is nie, of omdat hy nie wit is nie.
‘n Juffrou plaas ‘n foto op whatsapp en word geskors en deur die DA en EFF veroordeel.
‘n Vrou plaas op FB ‘n boodskap dat strande so vuil gelos word dat dit lyk of daar ‘n tipe boom dier daar was. Sy word met R150 000.00 beboet en deur die DA en EFF veroordeel.
‘n Vrou vra in ‘n winkel vir ‘n mandjie en word geskel deur ‘n ander persoon. Monde word gespoel daaroor.
‘n Kosgroep verban ‘n man en vra verskoning aan ‘n vrou, maar dit was duidelik soos daglig dat albei skuld aan die voorval. DA en EFF veroordeel.
5 mense staan in ‘n ry by ‘n hoendereetplek se deurry. Hulle word aangekla van aanranding en die EFF en DA kan nie hard genoeg rassisme skree nie. Interresant genoeg, hierdie saak is al vir 2 JAAR op die hof rol, en geen stap verder is al gevorder nie.

DS ·

Nou wat moes hy hom genoem het? Regtig hierdie rassisme perdjie se ruggie is nou al hol gery! Intimidasie op die sportveld is alom bekend en dit was presies wat dit was.

LOL ·

In hierdie geval was dit nie eers intimiderend, want Andile het niks verstaan nie.
In klubliga krieket, met eie span skeidsregters, het ons die opposisie toegesnou dat daar meer korrupsie vandag op die veld is as in die hele regering. Die omgekeerde sielkunde het besluite in ons guns laat tel!!!

alwyn burger ·

Wat is so gewraak aan die woorde?. Die skrywer van die artikel praat in ñ oomblik van geestelike helderheid dat dit “die wêreld aan die gons het”. Seker sy wêreldjie!?

Eugene ·

Min het Ahmed geweet hy is besig met beskermde kroonwild…

Dottie ·

Hoekom iets sê in die eerste plek. In vandag se tyd is daar orals kameras & mikrofone jong. Klink vir my asof hy maar net ‘n bietjie TE hardop gedink het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.