Albie Morkel oor krieket, AB en die Dalai Lama

Albie Morkel moes gereeld wedstryde vir die Proteas probeer wen het deur vinnig lopies te slaan. Foto: Cricinfo.

Ná 19 jaar se krieket en meer as 300 T20-wedstryde speel Albie Morkel die naweek sy laaste amptelike wedstryd vir die Titans, wanneer die Pretorianers vir Nottinghamshire in ’n vriendskaplike wedstryd in Irene pak.

“As sportman gaan ek die kompetisiekant van krieket baie mis. Weliswaar nou nie die stres wat met professionele sport gepaardgaan nie. Spansport is iets baie spesiaal – veral wanneer dit goed gaan; in die afgelope paar jaar het die Titans byvoorbeeld ’n spul trofees gewen,” het dié oud-Proteaspeler vir Jacaranda FM se Martin Bester gesê.

In ’n loopbaan van byna twee dekades het hy onder meer krieket in Engeland en Indië gespeel. Sy verwoestende kolfwerk en slim mediumvinnige aflewerings het van hom ’n gunsteling in T20-krieket gemaak en hy was gewild in Indië, waar hy onder andere vir die Chennai Super Kings, Rising Pune Supergiants en die Delhi Daredevils gespeel het.

Dit was juis in Indië waar een van die snaakser oomblikke van sy krieketloopbaan plaasgevind het.

Volgens Morkel kan mens skaars twee tree in die straat stap, of iemand vra vir jou handtekening in dié krieketmal land. Só moes hy een keer kaalvoet in ’n dieretuin rondgeloop het ná opdringerige ondersteuners sy plakkies vasgetrap het.

“Mens praat nie oor ál die pretdinge wat ons op toer aangevang het nie, maar die een scenario wat uitstaan, is toe die Chennai Super Kings destyds die Dalai Lama ontmoet het.”

Morkel het derde in die ry gestaan om voorgestel te word en hy het gesien hoe die ander Indiese spelers die groetwerk op ’n sekere manier aanpak.

“Justin Kemp het langs my gestaan en ek het hom gevra wat om te doen. Kempie het net gesê ek moet sy voete raak.”

Morkel was halfpad op pad grond toe, toe hy sy fout agterkom.

Hy was ook ’n ster in Indië. Foto: Cricinfo.

“Ek het gehoor hoe Justin van die lag uitbars en het onmiddellik onraad gemerk. Ek was egter reeds byna op die grond … toe vat ek maar aan die Dalai Lama se knieë!” het hy laggend vertel.

Morkel het deur die jare ’n hegte band met AB de Villiers gevorm. Nie net het hulle saam in Indië en vir die Proteas gespeel nie; hulle was ook vir ’n paar jaar woonstelmaats.

“AB is ’n ongelooflike speler en ’n baie lekker mens om mee tyd deur te bring.”

Gedurende dieselfde onderhoud is daar ’n insetsel gespeel waar De Villiers hulde aan sy vriend gebring het.

“Hy is ’n ware legende van die spel en selfs ’n beter mens. Albie is beslis een van die mees talentvolle spelers wat ek ken,” het De Villiers gesê.

Morkel vertel hoe hy verlede jaar besef het die tyd is ryp om sy uittrede aan te kondig. Hy was op ’n visvanguitstappie in Mosambiek en te danke aan een “simpel fout” moes hy ’n rukkie in die tronk deurbring.

“Dit was ’n nagmerrie-ervaring, maar dit was daar waar ek geestelik wakker geskrik het. Ek het besef ek wil meer tyd deurbring met mense wat vir my belangrik is.”

As speler was Albie Morkel bekend vir sy warrelwindbeurte, reusagtige sesse (daardie tamaaie grenshoue vir die Durban Heat vroeër vanjaar op SuperSport Park) en sy slim boulwerk.

As mens het hy ook sy stempel op baie spelers en ondersteuners se harte afgedruk.

  • Luister na die volledige onderhoud op www.jacarandafm.com.
  • Die wedstryd teen Nottinghamshire word op 17 Maart by Cornwall Hill in Irene gespeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.