Alfa Romeo keer terug na F1

Juan Manuel Fangio agter die stuur van ‘n Alfa Romeo in 1951. Foto: AP Photo/File

Die Italiaanse motorvervaardiger Alfa Romeo keer terug na die Formule Een-toneel nadat hy ʼn ooreenkoms met die Switserse Sauber-renspan aangegaan het.

Die span sal as die Alfa Romeo Sauber F1-renspan bekend staan. Sergio Marchionne, uitvoerende hoof van Fiat Chrysler Automobiles (FCA), het gesê die ooreenkoms is ʼn beduidende stap in die hervorming van die Alfa Romeo-handelsmerk.

FCA en Sauber het ʼn multijaar- tegniese en kommersiële vennootskapsooreenkoms aangegaan en sal met die aanvang van die 2018-seisoen aan Formule Een begin deelneem. Die renmotors sal spog met die kenmerkende kleure en kenteken van Alfa Romeo en toegerus wees met 2018-Ferrari-enjins. Daar word intussen bespiegel dat Charles Leclerc en Antonio Giovinazzi nader gehark sal word om die motors te bestuur.

Charles Leclerc. Foto: AP Photo/Moises Castillo

“Alfa Romeo se ingenieurs en tegnici, wat reeds hul vermoëns met die nuwe Giulia- en Stelvio-modelle getoon het, sal die geleentheid kry om dié ervaring vir die Sauber F1-span beskikbaar te stel. Terselfdertyd sal Alfa Romeo-ondersteuners weer die geleentheid kry om ʼn motorvervaardiger te ondersteun wat vasbeslote is om ʼn opwindende nuwe hoofstuk in sy unieke, legendariese sportgeskiedenis te begin skryf,” het Marchionne gesê.

Pascal Picci, Sauber se voorsitter, het gesê hulle is baie trots oor die feit dat Alfa Romeo hulle gekies het vir hul terugkeer tot Formule Een. “Ons is vol vertroue dat ons saam ʼn groot sukses kan maak van die Alfa Romeo Sauber F1-span en sien uit na ʼn lang en suksesvolle vennootskap.”

Alfa Romeo het in 1950 en 1951 sy eerste twee Grand Prix-titels gewen met Nino Farina en Juan Manuel Fangio agter die stuur en het van 1961 tot 1979 enjins verskaf aan talle F1-spanne.

Sauber se Pascal Wehrlein in aksie. Foto: AP Photo/Hassan Ammar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.