All Blacks vuurwarm; vernietig Wallis

Beauden Barrett en Aaron Smith ná die All Blacks se oorwinning teen Wallis. (Foto: Twitter / @All Blacks / @Beauden Barret)

Die All Blacks het Saterdag in die Millennium-stadion in Cardiff weer die eerste plek by die Springbokke op Wêreldrugby se ranglys afgeneem toe hulle Wallis met 54-16 afgeransel het.

Hulle het ook die wêreldrekord vir die meeste drieë in ʼn kalenderjaar in hul visier.

Die All Blacks was rustyd met 18-6 voor en hoewel Wallis hul man in die eerste uur gestaan het, kon hulle nie daarmee volhou nie veral toe die All Blacks na vyfde rat oorgeskakel het nie.

Boonop het die beserings van die slot Alun Wyn Jones en die losvoorspeler Ross Moriarty ook hul tol geëis. Albei spelers sal na alle waarskynlikheid komende Saterdag se toetswedstryd teen die Springbokke misloop.

Wallis was in die 65ste minuut met 16-28 agter, maar die Rooi Drake se afrigter, Wayne Pivac, het prontuit gesê dat sy span “van die kloof geval het” toe die All Blacks die krane begin oopdraai het.

Die All Blacks, wat sewe drieë gedruk het, kort in hul oorblywende drie toerwedstryde teen Italië, Frankryk en Ierland net vier drieë om Argentinië se Pumas se rekord van 92 drieë in 2003 te laat spat.

Die All Blacks het 80 drieë in 2007 gedruk wat ʼn kortkop agter die Bokke se 81 drieë in 2007 is.

Maar nou wink die Pumas se wêreldrekord vir die All Blacks, wat weer hul vermoë uitgestal het op teen ʼn baie hoë tempo te speel.

Hulle het vanjaar net een blaps begaan, toe hulle effe teen die verwagting in, hulle teen die Bokke vasgeloop het.

Vir die All Blacks se kwiksilwer losskakel, Beauden Barrett, was dit ʼn heuglike dag, want hy het sy 100ste toetswedstryd met twee drieë gevier.

Sy jonger broer, Jordi, het 19 punte met die skoen aangeteken.

Punte: Nieu-Seeland 54 (16): Drieë: Beauden Barrett (2), TJ Perenara, Will Jordan, Dalton Papalii, Sevu Reece, Anton Lienert-Brown. Doelskoppe: Jordi Barrett (5). Strafdoele: Jordi Barrett (3).

Wallis 16 (6): Drie: Johnny Williams. Doelskop: Rhys Priestland. Strafdoele: Gareth Anscombe. Priestland.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.