1 en 2 vir Ferrari in Melbourne

Carlos Sainz het vandag met die louere in Melbourne weggejaag. (Foto: X/Carlos Sainz)

Max Verstappen het vir die eerste keer in twee jaar nie ʼn wedren voltooi nie en Carlos Sainz het gewys wat in hom steek toe hy die Australiese Grand Prix in Melbourne gewen het.

Die Ferrari-renjaer is omtrent in sy skik nadat ʼn blindedermoperasie beteken het dat hy die vorige wedren in Saoedi-Arabië misgeloop het.

Die Spanjaard het sommer vroeg in die wedren verby die sukkelende Verstappen geskiet om die voortou te neem.

“Ek het die bande en my spoed goed onder beheer gehad. Dit was seker nie die moeilikste wedren nie, maar ek is baie bly en trots op my span. Ek is ook baie gelukkig dat Charles (Leclerc) tweede geëindig het. Dit wys jou net weer dat ʼn mens bereid moet wees om hard te werk,” het Sainz gesê.

Die 29-jarige renjaer is omtrent vir jou ʼn man op ʼn missie nadat hy in aanloop tot die seisoen gehoor het dat hy in 2025 plek vir Lewis Hamilton by Ferrari moet maak.

“Die lewe neem jou soms op ʼn emosionele tuimeltreinrit – van die gebeure aan die begin van die jaar en die podiumplek in Bahrein tot die blindedermprobleme en vandag se sege. Ek is egter mal daaroor en baie tevrede.”

Daarteenoor moes Verstappen magteloos van langs die baan toekyk hoe sy jaerspunteleervoorsprong tot net vier punte gekrimp het.

Die vlieënde Hollander het met remprobleme gesukkel en kort voor lank het daar rook uit sy Red Bull-vuurwa geborrel.

“Hierdie dinge gebeur maar op ʼn renbaan, maar dit is veel belangriker dat ons verstaan waarom dit plaasvind,” het hy gesê.

Mercedes se Lewis Hamilton moes ook die aftog blaas, terwyl spanmaat George Russell in die pylvak van die wedren teen die versperrings gebots het.

Uitslae:

  1. Carlos Sainz (Ferrari)
  2. Charles Leclerc (Ferrari)
  3. Lando Norris (McLaren)
  4. Oscar Piastri (McLaren)
  5. Sergio Perez (Red Bull)
  6. Lance Stroll (Aston Martin)
  7. Yuki Tsunoda (RB)
  8. Fernando Alonso (Aston Martin)
  9. Nico Hulkenberg (Haas)
  10. Kevin Magnussen (Haas)

Jaerspunteleer:

  1. Max Verstappen: 51 punte
  2. Charles Leclerc: 47 punte
  3. Sergio Perez: 46 punte
  4. Carlos Sainz: 40 punte
  5. Oscar Piastri: 28 punte
  6. Lando Norris: 27 punte
  7. George Russell: 18 punte
  8. Fernando Alonso: 16 punte
  9. Lance Stroll: 9 punte
  10. Lewis Hamilton: 8 punte

Vervaardigerspunteleer:

  1. Red Bull: 97 punte
  2. Ferrari: 93 punte
  3. McLaren: 55 punte
  4. Mercedes: 26 punte
  5. Aston Martin: 25 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

daarsdit ·

Was baie hartseer oor Max, maar terselfde tyd so bly vir Carlos.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.