1 teen 2 in Madrid-finaal

Aryna Sabalenka vier ’n punt in haar terugvegoorwinning teen Elena Rybakina. (Foto: Thomas Coex/AFP)

Die voorste twee vrouespelers op die internasionale tennisverhoog – Iga Swiatek en Aryna Sabalenka – sal weer in die eindstryd van die Madrid-ope rakette kruis.

Sabalenka het verlede jaar die toernooi-silwerware omhoog gehou nadat sy vir Swiatek met 6-3, 3-6 en 6-3 in die Spaanse hoofstad geklop het.

Swiatek het egter nou ʼn makliker halfeindstrydroete na die finale wedstryd gevolg toe sy vir Madison Keys op ʼn drafstap gewen het. Die eindtelling was 6-1 en 6-3 in die Pool se guns.

Daarteenoor moes Sabalenka hard werk om met Elena Rybakina af te reken.

Die Belarussiese tennisster moes diep delf nadat sy swaar in die eerste stel geleef het. Sy het uiteindelik die wedstryd met 1-6, 7-5 en 7-6 beklink.

“Dit beloof om ʼn uitstekende tweestryd te wees. Ons hou daarvan om ons beste op die baan te gee en ons baklei vir elke liewe punt,” het Sabalenka oor die komende eindstryd teen Swiatek gesê.

“Dit sorg vir baie opwinding en ek sien uit na die wedstryd. Ek gaan alles in my vermoë doen om te wen.”

Op haar beurt glo Swiatek dat haar goeie spelpeil die wa deur die drif sal trek.

“Ek voel baie goed op die baan en ek probeer om nie te veel aan verlede jaar se nederlaag teen Aryna te dink nie. Maar dit is opwindend om weer hier teen haar te speel en ek kry ʼn geleentheid om die bordjies te verhang.”

Die eindstryd word Saterdag beslis en die afslaantyd moet nog bevestig word.

Uitslae:

Aryna Sabalenka klop Elena Rybakina met 1-6, 7-5 en 7-6 (halfeindstryd)

Iga Swiatek klop Madison Keys met 6-1 en 6-3 (halfeindstryd)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.