10 000 treë per dag sorg glo nié vir ’n langer lewe

Foto is ter illustrasie. Foto: Verskaf.

Net voor ek dié storie begin skryf, kyk ek vinnig na my Fitbit-horlosie – ’n spesiale “ons-trou-amper-geskenk” van my verloofde.

Volgens die data op dié horlosie klop my hart teen ’n tempo van 69 slae per minuut (rustend klop dit glo 59 keer per minuut – seker te danke aan die Mumford and Sons-keurspel in die agtergrond) en my kardio-fiksheidstelling is iets wat ek nog nooit heeltemal kon verstaan nie.

Maar, o tog, ek het vandag nog net 2 700 treë gegee!

Genadiglik het ek vanoggend vir 3 000 m in die gimnasium geroei. Weliswaar teen die pas van ’n asmatiese mier met ’n paar swaar sakkies inkopies (Mamma Mier is kwáái) op sy rug, maar dit dra darem by tot die 1 701 kalorieë wat ek hier skuins voor 11:00 reeds verbrand het.

Maar daardie treë-telling; eisj, dit sal móét verbeter.

Sedert ons die fiksheidshorlosies aangeskaf het, is ek en my verloofde in ’n verbete treë-stryd gewikkel. Ek is wel onder die indruk dat haar lessenaar-swartbord-lessenaar-swartbord-personeelkamer-klaskamer-speelgronddiens-klaskamer-netbalbaan-klaskamer-roete vir baie meer steps as my kantoortafel-koffiepot-staproete van 25 treë per retoeruitstappie sorg.

Wanneer een van ons die magiese kerf van 10 000 treë per dag gehaal het, gaan daar onmiddellik ’n virtuele partytjie op jou horlosie-arm af. WhatsApps word tussen die konfetti deur uitgestuur om die wonderlike nuus te deel en jou dag is sommer vroliker as gewoonlik.

Maar hoe belangrik is 10 000 treë per dag nou eintlik?

Oorsese media het die afgelope week berig dat Amerikaners in 2018 ’n ongelooflike 26 triljoen treë in die jaar gegee het.

Tog het ’n studie deur Harvard Universiteit se slimkoppe, en wat in die Journal of the American Medical Association gepubliseer is, bevind dat 10 000 treë nie altyd die partytjie werd is nie.

Harvard se ghoeroes het ’n studie onder 16 000 vroue in hul 70’s gedoen. Hulle moes ’n fiksheidsapparaat vir ’n week dra en hul treë is noukeurig neergeskryf.

Vier jaar later is daar ’n opvolgstudie gedoen en 504 van die deelnemende vroue is intussen in dié tydperk oorlede. Die wat nog leef, het egter nie daagliks 10 000 treë gestap nie, inteendeel, die gemiddelde treë-telling was 5 500.

Die studie het wel bevind dat jou kanse groter is om langer te leef as jy 4 000 treë per dag gee, as wat jy net 2 700 treë per dag stap.

Die gevolgtrekking is dus dat hoe meer treë jy gee, hoe langer is jou lewe. Hokaai, stop egter die lorrie voor jy jou werk bedank om ’n professionele stapper te word.

Die voordele het ’n plato bereik teen 7 500 treë per dag; enige tree meer as dit het geen verskil aan die respondente se lewensverwagtinge gemaak nie; aldus die studie.

Niemand weet presies hoeveel treë elke individu moet gee nie, want elkeen is anders.

“Daar is nie ’n skoen wat almal perfek pas nie,” het Harvard se prof. I-min Lee aan die Washington Post gesê.

“Maak nie saak hoeveel treë jy per dag gee nie, deur bloot jou fiksheidshorlosie te dra en doeltreffend aan te wend, kan voordelig nie net vir jou gesondheid wees nie, maar ook vir jou lewensgehalte,” het Lee gesê.

Dra dus jou horlosie, dit is ’n lekker ding om te doen!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

B ·

Dis hoekom ‘n inisiatief soos bv ‘parkrun’ so wonderlik is, niks meer is nodig as daardie 5 km nie. (Ja ek weet dis slegs op Saterdae, maar dis ‘n goeie manier om die week se oef af te rond :) )

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.