10 uit 10 vir Nadal!

Rafael Nadal vier fees. Foto: Filippo Monteforte/AFP.

Die Spaanse tennisster Rafael Nadal het Sondag weereens in Rome gewys dat hy g’n voete van klei het nie toe hy vir die tiende keer in sy loopbaan die Italiaanse Ope gewen het.

Die 34-jarige wenner van die gesaghebbende Laureus-toekenning het Novak Djokovic in drie stelle getroef om met 7-5, 6-1 en 6-3 te seëvier.

Dit was die perfekte kleedrepetisie vir die Franse Ope wat binnekort in Parys begin en waar Nadal sal poog om sy 14de titel te verower.

“Ek het ’n goeie toernooi hier in Rome agter die blad. Ek speel al hoe beter en ek begin weer my ritme op die kleibane vind,” het die Spanjaard ná die eindstryd gesê.

Dit is omtrent onheilspellende nuus vir sy teenstanders op Roland Garros. Sedert 2005 het hy nog net twee van sy 102 wedstryde in Parys verloor.

Op sy beurt het Djokovic erken dat dit bitter moeilik sal wees om vir Nadal in die Franse hoofstad te onttroon. Tog meen hy ook dat hy gaandeweg sy voete op die kleibane vind.

“As ek speel soos wat ek vandag en in die halfeindstryd gespeel het, hoop ek dat ek taamlik ver op Roland Garros sal vorder. Natuurlik sal dit hoegenaamd nie ’n maklike taak wees nie.”

Die wêreld se voorste speler is verlede jaar deur Nadal van die baan gevee toe hy met 6-0, 6-2 en 7-5 verloor het.

Nadal sal nou na Spanje terugkeer om vir die Franse Ope voor te berei, terwyl Djokovic by nog ’n toernooi in aksie sal wees.

Intussen het organiseerders van die Franse Ope verlede week bevestig dat toeskouers wat die tennisskouspel in Parys wil bywoon, sal moet bewys dat hulle nie Covid-19 het nie.

Amélie Oudéa-Castéra, direkteur-generaal van die Franse tennisbeheerliggaam (FFT), het gesê dat toeskouers ’n negatiewe toetsuitslag (nie ouer nie as 48 uur) as bewys moet toon om toegang te verkry. Andersins sal ’n inentingsertifikaat ook voldoende wees.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Martie Smartie ·

Wonder hoe sou Pistol Pete Sampras teen Nadal gevaar het?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.