18 op ’n streep vir Rafa!

Rafael Nadal steeds op die wenpad. Foto: Frederic J. Brown/AFP.

Rafael Nadal het sy plek in die kwarteindstryd van die Indian Wells-toernooi bespreek nadat hy vir Reilly Opelka in Kalifornië geklop het.

Die Spanjaard moes aanvanklik bontstaan om Opelka se kragtige afslane te tem, maar sy ervaring en houespel was uiteindelik deurslaggewend en hy het die wedstryd met 7-6 en 7-6 beklink.

Hy het nou al 18 agtereenvolgende wedstryde gewen; die beste aanloop tot ’n ATP-seisoen van sy loopbaan.

“Reilly is een van die taaiste teenstanders op die internasionale verhoog – veral sy afslane en voorhandhoue is gedugte wapens. Maar ek het vandag my beste wedstryd van die toernooi gespeel en is baie tevrede met die oorwinning,” het Nadal ná die wedstryd gesê.

Nadat ’n voetbesering die 35-jarige speler verlede jaar vir ’n hele paar groot toernooie langs die baan gehou het, is hy beslis besig om sy stempel op die 2022-tennisjaar af te druk.

Hy het vroeër sy 21ste Grand Slam-titel in Melbourne gewen, terwyl hy ook by twee ATP-toernooie koning gekraai het.

Tog ervaar hy steeds probleme met sy voet.

“Ek sukkel vir die afgelope twee dae ’n bietjie meer as ander dae. Ek kon egter vir die volle wedstryd op die baan rondbeweeg en is dankbaar om nog ’n wedstryd te kan speel.”

Nick Kyrgios wag in die kwarteindstryd en Nadal is oorgehaal om sy beste teen die vurige Aussie te lewer. Indian Wells is immers sy laaste hardebaantoernooi voordat die kleiseisoen in April begin.

“Ek probeer om nie te veel aan my voet te dink nie; ek wil veel eerder op my volgende teenstander konsentreer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.