24 wedrenne wink in 2024!

Daar wag 24 wedrenne in die nuwe jaag. (Foto: Attila Kisbenedek/AFP._

Die stof van die finale Grand Prix van die jaar het nog nie eens behoorlik gaan lê nie of F1-liefhebbers kan na ʼn aksiebelaaide 2024 uitsien.

Die adrenalienvlakke gaan weer amptelik op 2 Maart die hoogte inskiet wanneer daar in Bahrein gejaag word, terwyl Abu Dhabi oudergewoonte gasheer vir die finale ronde sal speel.

Daar wag amptelik 24 wedrenne op die propvol kalender met Shanghai (China) wat onder meer in April deel van die aksie word.

Die Suzuka-Grand Prix in Japan word ook na April geskuif, terwyl Azerbeidjan se nuwe datum in September saam met Italië en Singapoer val.

“Daar is baie belangstelling in die sport en ek glo dat die kalender ʼn goeie balans tussen tradisionele wedrenne en opwindende nuwe venues handhaaf,” het Stefano Domenicali, F1 se uitvoerende hoof, gesê.

Max Verstappen het vanjaar vir die derde agtereenvolgende keer met die wêreldkampioen-louere weggejaag nadat hy 19 van die 22 wedrenne gewen het.

“Dit was ʼn ongelooflike seisoen. Ek was skoon emosioneel; dit was die laaste keer in dié renmotor en ons was ʼn baie goeie kombinasie,” het Verstappen gesê nadat die geruite vlag vir hom in Abu Dhabi geswaai is.

“Ek is terselfdertyd ook trots om die finale wedren van 2023 te wen – dit gaan baie moeilik wees om in die toekoms weer ʼn soortgelyke vertoning te lewer, maar ek het vanjaar baie geniet.”

F1-kalender vir 2024:

2 Maart: Bahrein

9 Maart: Saoedi-Arabië

24 Maart: Australië

7 April: Japan

21 April: China

5 Mei: Miami

19 Mei: Emilia Romagna (Imola)

26 Mei: Monaco

9 Junie: Kanada

23 Junie: Spanje

30 Junie: Oostenryk

7 Julie: Verenigde Koninkryk

21 Julie: Hongarye

28 Julie: België

25 Augustus: Zandvoort

1 September: Italië

15 September: Azerbeidjan

22 September: Singapoer

20 Oktober: VSA

27 Oktober: Mexiko

3 November: Brasilië

23 November: Las Vegas

1 Desember: Katar

8 Desember: Abu Dhabi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Schalk ·

Ek wonder wat is die standaard van die FIA? Toe Rusland Ukraine aanval,word hulle summier van die kalender verwyder, self n Russiese jaer kry die trekpas. Vanjaar val Hamas Israel aan, soos almal weet is Katar die hoof borg van Hamas en n veilige hawe vir die terroriste, hoekom is Katar nog op die kalender? Of is Israel nou die muishond?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.