4-hoekige reeks perfekte voorbereiding vir Statebond

Dorette Badenhorst (Protea-afrigter). Foto: Twitter.

Die Protea-netbalgroep vir die vierhoekige reeks in Londen is bekend.

Die Suid-Afrikaners sal sake teen Engeland, Australië en Nieu-Seeland in ’n perfekte voorbereidingsreeks vir die komende Statebondspele uitspook.

Oudergewoonte sal Bongi Msomi die span aanvoer wat ’n paar bekende gesigte soos Ine-Marí Venter, Lefébre Rademan en Phumza Maweni insluit.

Die spelers was onlangs by ’n oefenkamp in Stellenbosch en Dorette Badenhorst (afrigter) is tevrede met hul spelpeil en werkverrigting.

Lefébre Rademan sal een van die Protea-sterre in Londen wees. Foto: Twitter.

“Die vierhoekige reeks is ’n stryd tussen moontlike Statebond-medaljewenners en juis daarom wil ons ’n goeie vertoning lewer. Ek is opgewonde; nie net om te sien hoe ons spelers teen van die wêreld se voorste netbalspanne vaar nie, maar ook om die verskillende kombinasies uit te toets,” het Badenhorst gesê.

Karla Pretorius sal egter die reeks misloop. Die talentvolle verdediger het vroeër op sosiale media aangekondig dat sy en haar man (Werner) hul eersteling verwag.

Die Proteas het in November – sonder baie van hul groot sterre – die Afrika-netbalbeker op ’n drafstap gewen.

Msomi se span het uiteindelik 563 doele in die agt wedstryde aangeteken en slegs 246 doele afgestaan.

Protea-groep: Sigrid Burger, Ine-Marí Venter, Lefébre Rademan, Elmere van der Berg, Jessica du Plessis, Khanyisa Chawane, Izette Griesel, Tshinakaho Mdau, Bongi Msomi (kaptein), Simone Rabie, Monique Reyneke, Phumza Maweni, Nicola Smith en Zanele Vimbela.

Bepalings:

15 Januarie 2022: Engeland teen Suid-Afrika; Nieu-Seeland teen Australië

16 Januarie 2022: Australië teen Suid-Afrika; Engeland teen Nieu-Seeland

18 Januarie 2022: Suid-Afrika teen Nieu-Seeland; Engeland teen Australië

19 Januarie 2022: Uitspeelwedstryde

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.