7de Laan se ‘Eugenie’ droom van Paralimpiese glorie

Mariska Venter in aksie. Foto: Reg Caldecott.

Enige droom kan ’n werklikheid word, mits jy natuurlik in jouself glo en bereid is om hard te werk om jou doelwitte te bereik. En Tukkies se Mariska Venter is glad nie bang vir ’n uitdaging nie.

Die jong rolstoeltennisspeler van Pretoria wil volgende jaar by die Paralimpiese Spele in Tokio in aksie wees en sy is goed op dreef om in Japan af te slaan.

Sy het die afgelope paar weke in twee eindstryde in België gespeel, waarvan sy een gewen het. Terselfdertyd het sy ook met van die wêreld se voorste spelers afgereken.

Sy het met Argentinië se Florencia Morneno – onder die top‑15 spelers in die wêreld – klaargespeel, terwyl Nederland se Michaela Spaanstra ook gesweet het om die Suid-Afrikaner te klop.

“Ek het besef die uurglas om vir die Spele te kwalifiseer is besig om leeg te loop,” het Venter gesê.

“Juis om dié rede probeer ek om elke internasionale geleentheid met twee hande aan te gryp. Soos wat sake nou staan, sal ek met 15 plekke op die internasionale ranglys moet spring om te kwalifiseer. Ek is tans 38ste ter wêreld gekeur.”

Haar lewe het in 2004 onherroeplik verander toe sy en haar gesin in ʼn ernstige botsing betrokke was. Haar pa en broer is in die motorongeluk oorlede en die agtjarige Mariska het haar rug gebreek, wat haar verlam gelaat het.

Tog is haar sport haar passie en haar drome kry vlerke wanneer sy op die baan is.

“Die oomblik wanneer ek op die tennisbaan is, voel ek soos ’n atleet; tennis het my gered. Dit het my geleer dat my rolstoel nie die rede vir my beperkings is nie, maar my denke.

“Ek glo nie meer in beperkings nie. As iemand vir my sê ek kan nie iets bereik nie, werk ek twee keer harder om hulle verkeerd te bewys.”

Sy was onlangs ook op die kassie as Eugenie in 7de Laan te sien.

“In my lewe was ek bevoorreg genoeg om baie dinge te ervaar, maar niks kon my vir ʼn akteursrol voorberei nie. Ek was ’n senuweewrak die eerste dag op die stel gewees en heeltemal buite my gemaksone.”

Kykers het egter van Eugenie gehou en dit het haar sommer hope selfvertroue gegee.

“Om in 7de Laan te speel het my die geleentheid gebied om vir kykers te wys dat alhoewel verlamde persone anders lyk, ons steeds dieselfde drome en passies as ander het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ekke ·

Jy is n pragtige meisie met hope talent. Toe jy uit 7de laan is toe hou ek ook op met kyk. Jy was net iets anders. N vars briesie. Ek dink jy moet motiverings praatjies doen. Jy is n rolmodel vir die SA.

Jan ·

Mariska, ons is baie trots op jou! Jy is ‘n voorbeeld van volledig menswees! Ons bid saam met jou dat jy vir die Paralimpiese Spele sal kwalifiseer. (Net 7deLaan gekyk vir Mariska).

Jax ·

Liewe jong dame. Jy het baie diep in baie van ons harte gekruip! Ek sal sonder ophou vir jou bid. Mag die Here jou lei tot daar waar Hy jou nodig het
Baie sterkte! Jy is pragtig en sterker as staal!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.