‘7de Laan’ se ‘Eugenie’ word net beter op rolstoeltennisbaan

Mariska Venter. Foto: Reg Caldecott.

Mariska Venter se lewe het in 2004 onherroeplik verander toe sy en haar gesin in ʼn ernstige botsing betrokke was. Haar pa en broer is in die motorongeluk oorlede en die agtjarige Mariska het haar rug gebreek, wat haar verlam gelaat het.

Tog is haar sport haar passie en haar drome kry vlerke wanneer sy op die rolstoel-tennisbaan is.

“Die oomblik wanneer ek op die tennisbaan is, voel ek soos ’n atleet; tennis het my gered. Dit het my geleer dat my rolstoel nie die rede vir my beperkings is nie, maar my denke,” het sy gesê.

Op die internasionale ranglys is die jong Tukkies-student tans die 31ste voorste speler ter wêreld. Aan die begin van die jaar was sy nommer 59.

Tog wag daar nog baie op haar – om vir die Paralimpiese Spele in aanmerking te kom, moet sy teen Junie 2020 onder die top-23 spelers in die wêreld wees.

In aksie op die tennisbaan. Foto: Reg Caldecott.

En Mariska is mal oor ’n uitdaging.

“Wanneer mense vir my vertel ek kan nie iets doen nie, werk ek twee keer so hard om hulle verkeerd te bewys. Wanneer ek eers ’n doelwit voor oë het, gee ek nooit tou op nie.”

Sy het 42 wedstryde gewen en slegs 21 verloor. Daarbenewens het sy vier titels verower en was by drie geleenthede die naaswenner gewees.

Sy vertel dat harde werk die sleutel tot haar sukses is.

“Dit het gesorg dat ek met groter selfvertroue begin speel het. In die moeilike oomblikke waar jy senuwees van staal benodig, kon ek kalm bly. Trouens, ek het selfs dié uitdagings begin geniet.”

Sy was onlangs ook op die kassie as Eugenie in 7de Laan te sien.

“In my lewe was ek bevoorreg genoeg om baie dinge te ervaar, maar niks kon my vir ʼn akteursrol voorberei nie. Ek was ’n senuweewrak die eerste dag op die stel gewees en heeltemal buite my gemaksone.”

Kykers het egter van Eugenie gehou en dit het haar sommer hope selfvertroue gegee.

“Om in 7de Laan te speel het my die geleentheid gebied om aan kykers te wys hoewel verlamde mense anders lyk, het ons steeds dieselfde drome en passies as ander.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

stem ·

jys ‘n pragtige mens, doen so voort met jou uitdagings
ek hou duime vas vir jou om die hoogste sport te bereik

Skaam ·

Mense soos jy en Matthys Roets en Erik Holm maak as ‘n mens sonder liggaamlike gebreke, skaam. Julle deursettingsvermoë is vir enige een ‘n diepe inspirasie. Dankie dat julle sulke voorbeelde is vir ons almal! God seën julle.

Suzette Geringer ·

Wow Mariska!! Welgedaan. Jy is ‘n pragtige vrou. Mag al jou drome waar word en jou prestasies van krag tot krag gaan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.