8-jarige laat speke steeds sing, ondanks Tour de France-teleurstelling

Mason Hunter is ’n fietsry-entoesias. Foto: Verskaf.

’n Gr. 3-leerling se droom om ’n paar skofte van die Tour de France by te woon, is weliswaar deur die Covid-19-pandemie in die wiele gery, maar dit het glad nie sy entoesiasme vir fietsry geblus nie.

Die agtjarige Mason Hunter en sy gesin sou gedurende die Junie-vakansie vir familie in die Verenigde Koninkryk gaan kuier het. Terwyl hulle daardie tyd in Europa sou wees, sou hulle sommer ’n skof of twee van die fietstoer bygewoon het.

“Toe ons hom van die Tour de France-planne vertel het, het hy onmiddellik die dae begin aftel. In sy Engelse toesprakie by die skool het hy gesê hy wil eendag ’n professionele fietsryer word, terwyl hy nie net gedroom het om die Tour de France by te woon nie, maar ook om eendag as ’n professionele ryer daar deel te neem,” het sy pa, Bradley, gesê.

Natuurlik was die teleurstelling groot met die nuus dat die wedren, sowel as hul reisplanne, afgelas is.

“Ons was baie opgewonde om ons familie weer te sien en ons was beslis ontsteld. Maar dit is ongetwyfeld in almal se belang; ons sal die pandemie oorwin.”

Mason oefen egter steeds gereeld sodat hy fietsry-fiks bly; selfs gedurende die afsonderingstydperk. Volgens sy pa het hy vroeër begin geld spaar om vir homself ’n padfiets te koop.

Saam met Brandon Downes. Foto: Verskaf.

“Hy het sorgvuldig rekord van al sy spaarvarkietransaksies gehou – hy het geld ingesamel danksy verjaardaggeskenke, deur werkies in en om die huis te doen en om my kleingeld te gaps. Toe hy uiteindelik genoeg gehad het, was die fiets gelukkig op ’n spesiale aanbod en hy kon ook tuisoefen-toerusting bekostig.

“So tussendeur die sokker- en rugbywedstryde in die tuin oefen hy sy trapwerk op sy stilstaande fiets met die hulp van die oefenprogram Zwift; hy sê dit is soos videospeletjies, maar net op sy fiets.”

Onder Mason se gunstelingfietsryers is die voormalige Tour de France-kampioen Chris Froome. Hy deel selfs sy verjaardag met die Britse ryer.

“Ek hou van sy storie – hy is in Kenia gebore en het in Suid-Afrika grootgeword. Dan hou ek van Peter Sagan omdat hy cool is en gereeld wys dat jy pret op ’n fiets kan hê,” het Mason gesê.

O ja, om dan nie van Daryl Impey en Ryan Gibbons te vergeet nie; hulle is immers Suid-Afrikaanse fietsryers wat gewys het dat met ’n tikkie harde werk en vasberadenheid jy jou drome kan bereik.

“Ek hou ook van Brandon Downes (TEG-ryer en 94.7-kampioen) omdat hy altyd met my gesels en omdat ons soms kan saamry.”

  • Die organiseerders van die Tour de France kyk nou daarna om dié gewilde toer teen die einde van Augustus aan te bied.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.