‘Al weer ’n Mercedes,’ brom Max

Max Verstappen sê hy sal aanhou veg. Foto: Twitter.

Max Verstappen se aanslag op ’n wedren is vir die tweede agtereenvolgende Grand Prix in die wiele gery. En om ekstra sout in die wonde te vryf: ’n Mercedes was toevallig al twee keer betrokke.

Eers het Lewis Hamilton ’n sleutelrol in die ongeluk op die Silverstone-renbaan vertolk, waarna Valtteri Bottas se remblaps nie net vyf motors in Hongarye uitgeskakel het nie, maar ook Verstappen se motor erg beskadig het.

“Al weer deur ’n Mercedes uitgehaal; dit is nie iets wat jy graag wil hê nie. Dit is aaklig dat sulke dinge in twee agtereenvolgende wedrenne moes gebeur. Daar was gister net te veel skade aan die motor en ek kon nie eintlik veel meer uitrig nie,” het Verstappen gesê.

Die 23-jarige Nederlander het tiende geëindig en hy moes amper magteloos toekyk hoe Hamilton sy pad na die podium oopveg.

Hy het egter Fernando Alonso se bestuursvernuf geloof. Die 40-jarige Spanjaard se uitstekende verdediging het ongetwyfeld ’n demper op die Mercedes-renjaer se berugte “Hammertime” geplaas en die kat-en-muis-speletjie het tyd en krag vermors.

“Fernando het baie goed bestuur. Ek sou graag wou gehad het dat dinge anders uitgedraai het, maar ons sal aanhou veg.”

Intussen is Sebastian Vettel – wat gister tweede geëindig het – op ’n tegniese punt gediskwalifiseer. Die Duitser het nie genoeg petrol in die tenk van sy renmotor oorgehad sodat wedrenbeamptes ’n voldoende monster kon neem nie.

Die toedrag van sake beteken dat Hamilton nou na die tweede plek opskuif en sy voorsprong op die jaerspunteleer tot agt punte vergroot.

Vettel se Aston Martin-span het egter gesê dat hulle teen die besluit sal appelleer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Harley Davidson ·

Dit is seker die taktiek om knie buiger te help wen

koos10 ·

Jasper, hoe op dees aarde kan ‘n bestuurder teen 300km/h besluit om ‘n ander motor te stamp, en dan ook bepaal dat ANDER karre jou spanmaat se grootste teenstander van die baan moet stamp?
O ja, seker net soos Lando, nadat hy van die baan gehaal is, besluit het dat sy grootste teenstander (Ferrari) deur ‘n Aston Martin van die baan gehaal word?
Geen bestuurder het voor die begin van die ren enige idee gehad hoe dit gaan wees op ‘n nat baan nie.
Jip Bottas het ‘n fout gemaak, maar om dit in die guns van Mercedes te wil swaai is verregaande!

koos10 ·

Dit was ‘n ren waaroor baie spanne moet gaan nadink.

1. Mercedes moet gaan dink hoekom Lewis alleen, met die verkeerde bande, by die weer begin (restart is net ‘n beter woord) gestaan het?
2. Aston Martin moet gaan dink of die minder brandstof in Seb se kar die moeite werd was?
3. Alfa Romeo moet gaan dink oor hoekom hulle die Haas se kar in die kuipe uitgehaal het? (Snaaks genoeg is hulle direkte teenstanders, en Kimi het 10 sekonde straf gekry, en niemand sê iets daaroor nie?)
4. FIA moet gaan dink of hulle reëls regtig so vas moet wees, dat bande nie gewissel mag word in park ferme toestande nie.
5. Apline moet gaan dink of hulle regtig nie ‘n paar rand meer vir Alonso en Ocon moet betaal nie.
6. Mclaren moet besluit of Ricardo die regte opsie is?
7. Red Bull moet besluit of Perez goed genoeg is om Max te ondersteun, siende dat hy meers as ‘n sekonde per rondte stadiger is as Max.

Nogmaals baie geluk aan Oncon. Hy het soos ‘n kampioen gejaag.

JohanCzu ·

Ek dink nie toeval het ‘n rol gespeel nie. Duidelik was dit beplan sodat een Mercedes Benz moet sorg dat Verstappen nie vir Hamilton kan pla nie.

Amanda ·

Bottas se halfhartige “sorry guys”was duidelik ‘n teken dat dit so beplan was. Met ‘n baan wat nat is, ry jy ekstra versitgtig, hy is nie ‘n rookie en behoort te weet. Weereens overrated crymilton die voordeel gekry. Nes hy gese het die “Booh”van die skare maak hom net meer tempting om te wen, so maak dit Verstappen meer tempting om NIE tou op te gooi nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.