Alcaraz marsjeer voort op Roland-Garros

Carlos Alcaraz is deur na die volgende ronde van die Franse Ope. Foto: Twitter.

Dit het gister vir Carlos Alcaraz net minder as twee uur geneem om na die volgende ronde van die Franse Ope deur te dring.

Die 19-jarige tennissensasie het korte mette met Juan Ignacio Londero op die ikoniese Philippe Chatrier-baan gemaak en hy het die wedstryd met 6-4, 6-2 en 6-0 beklink. Hy sal nou môre teen sy landgenoot, Albert Ramos-Vinolas, te staan kom.

“Die eerste stel was nogal ’n uitdaging, maar dit is altyd spesiaal om op só ’n bekende baan te speel. Ek is baie tevrede met my eerste wedstryd op Phillipe Chatrier en ek hoop om nog baie kere hier te speel,” het Alcaraz gesê.

Indien alles volgens plan verloop, sal die wêreldno. 6-speler óf teen Novak Djokovic óf teen Rafael Nadal in die halfeindstryd te staan kom. Hy het vroeër vir ’n tikkie geskiedenis gesorg toe hy die eerste speler nóg geword het om met dié twee tennislegendes in dieselfde toernooi af te reken.

So van Djokovic gepraat; sy veldtog om sy titel te verdedig begin vandag amptelik teen Yoshihito Nishioka van Japan.

“Ek het vertroue in my vermoë om saam met die wêreld se voorste spelers te gesels – veral wanneer iets so glansryk soos die Franse Ope-titel op die spel is. As die verdedigende kampioen glo ek dat ek weer met die louere sal kan wegstap,” het die Serwiër gesê.

Die 34-jarige speler het onlangs die Italiaanse Ope in Rome gewen en hy is besig om met elke wedstryd beter te speel.

Intussen is Rafael Nadal opgewonde oor sy kans om ’n 14de titel in Parys te wen.

“Hier is ek weer op Roland-Garros vir nóg ’n toernooi. Ek ken hierdie plek baie goed; dit is immers die belangrikste toernooi van my loopbaan en dit het al vir soveel goeie herinneringe gesorg,” het die 36-jarige Spanjaard gesê.

Hy speel ook vandag in sy openingswedstryd wanneer hy teen Jordan Thompson te staan kom.

  • Gister se uitslae:

Alexander Zverev klop Sebastian Ofner met 6-2, 6-4 en 6-4.

Camilo Ugo Carabelli klop Aslan Karatsev met 6-3, 4-6, 6-4, 3-6 en 7-6.

Fabio Fognini klop Alexei Popyrin met 6-4, 7-5 en 6-4.

Felix Auger-Aliassime klop Juan Pablo Varillas met 2-6, 2-6, 6-1, 6-3 en 6-3.

John Isner klop Quentin Halys met 7-6, 4-6, 7-6 en 7-6.

Diego Schwartzman klop Andrey Kuznetsov met 6-3, 1-6, 6-4 en 6-2.

Maria Sakkari klop Clara Burel met 6-2 en 6-3.

Magda Linette klop Ons Jabeur met 3-6, 7-6 en 7-5.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.