Ali-kunswerke vir amper $1 miljoen opgeveil

Muhammad Ali ná nog ’n sege. Foto: AFP.

Hy was een van die talentvolste boksers ooit, terwyl hy in 1999 deur verskeie publikasies as die sportman van die eeu aangewys is. Nou is van Muhammad Ali se sketse en skilderye vir amper $1 miljoen by Bonhams in New York opgeveil.

Een van sy sketse, Sting Like a Bee, is vir $425 312 verkoop nadat afslaers verwag het dat die hamer vir oulaas op $60 000 sou slaan.

Die kunswerk sluit ook een van sy gedigte in: “Ref! he did float like a butterfly and sting like a bee! Yes, if you were smart you run like me!”

Volgens Bonhams het Ali regdeur sy lewe ’n liefde vir kuns gehad en hy het selfs lesse geneem. Die wêreldbekende sportster het gereeld prente geteken wat boksgevegte, menseregtekwessies en wêreldvrede uitbeeld.

Hy is in 2016 dood nadat hy 32 jaar lank teen Parkinson se siekte baklei het. Hy het 56 van sy 61 gevegte gewen.

Nico Ali Walsh, sy 21-jarige kleinseun, het in Augustus in sy oupa se voetspore gevolg toe hy sy eerste professionele boksgeveg in Oklahoma in die VSA gewen het.

“Dit was ongetwyfeld ’n emosionele reis om tot hier te kom en ek dink die afgelope tyd baie aan my oupa; ek verlang na hom,” het Walsh ná die geveg gesê.

“Ek het my oupa saam met my in die kryt gehad deur in sy kortbroek te boks. Dit is egter die eerste en laaste keer in my professionele loopbaan dat ek dit dra. Ek is baie trots daarop dat sy nalatenskap kan voortleef.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

OW ·

Hy was die mees wetenskaplikste bokser ooit.Hy was nie die hardste slaner in die swaargewig afdeling nie maar vir my die aanskoulikste.Sy onvergeetlike gevegte teen Joe Frazier en Ken Norton en die geveg van die vorige eeu teen George Foreman in 1974.Glad met die mond maar ‘n ware kampioen.

OW ·

Hy was Cassius Clay.Hy het sy naam verander na hy in 1967 van sy swaargewigtitel ontneem is,omdat hy beswaar gehad het oor Amerika se deelname in die oorlog met Viëtnam.

Harley Davidson ·

Dit was voor my tyd ,ek dink Mike Tyson voor hy kop verloor het was in my opinie die beste swaargewig ooit

groenboer ·

Ja, hy was skynbaar ‘n beter bokser as kunstenaar. Maar natuurlik, in daardie mark betaal mens vir die handtekening, nie die kunswerk self nie.

Richard ·

Wat ‘n fantastiese bokser was hy nie. Sy geveg teen George Foreman op 30 Oktober 1974 sou hy verloor het as hy nie heeltemal te slim vir Foreman was nie. Wat ‘n bokser, en wat ‘n persoonlikheid was hy nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.