Alonso dalk oud, maar g’n koud

Fernando Alonso. Foto: Andrej Isakovic/AFP.

Sondag gaan ’n spesiale dag wees wanneer Fernando Alonso agter die stuur van sy Alpine-renmotor in Bahrein inskuif.

Nie net sal hy sy F1-terugkeer vier nadat hy vir die afgelope paar jaar ander motorsportavonture aangepak het nie, maar dit is ook al twee dekades sedert hy destyds as ’n 19-jarige sy buiging gemaak het.

Alonso het in 2001 saam met ’n 21-jarige Kimi Raikkonen sy eerste proesel van F1-renne gekry. Maklik moes dit beslis nie gewees het nie, want dit was die dae van Michael Schumacher, Rubens Barrichello en Mika Hakkinen.

Die Red Bull-renjaer Max Verstappen se pa, Jos, het destyds ook nog in sy Arrows-renmotor rondgejaag.

Druk nou die versnelknoppie na 2021 en Alonso is een van dié sport se veterane; ’n renjaer wat al met sukses aan die Dakar-veldtydren en die Indy 500-reeks deelgeneem het.

En, as ’n mens so na sy onderhoude luister, meen hy dat hy op 39-jarige ouderdom steeds beter as baie van die ander renjaers kan vertoon.

“Ek verstaan nie werklik waarom daar so ’n bohaai oor my ouderdom opgeskop word nie. Die ou wat deesdae die sport oorheers, is 36 jaar oud; dit is nie asof ek 20 jaar ouer is nie,” het die Spanjaard vir BBC Sport gesê.

“Daar is baie talentvolle renjaers op die wegspringrooster en dit gaan ongetwyfeld ’n uitdaging wees om op die podium te eindig, maar ek is ’n beter bestuurder.”

Hy het egter gemaan dat hy nog nie heeltemal vertroud met sy Alpine-renmotor is nie. ’n Bietjie voorseisoense toetswerk is nie genoeg nie.

“Sulke dinge neem maar tyd en ek is nog nie 100% gereed nie. ’n Mens voel altyd eers op jou gemak na so vier of vyf wedrenne in die motor.”

Hy het 2022 geteiken as die jaar waar hy aanspraak op die wêreldtitel kan maak – veral omdat die regulasies dan gunstiger is.

Maar met Fernando Alonso terug agter die stuur sal F1 ongetwyfeld oor meer woema beskik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jack ·

Juan Manuel Fangio was reeds in sy middel veertigs toe hy sy eerste van vyf wereldtitel verower het. Selfs die beste bestuurder kan nie met ‘n motor wat ten minste die eweknie van die beste motor is, wen nie.

Anton ·

Die plaaslike taxi drywer sal wen in Mercedes. Kyk nie meer die vervelige spul nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.