Alonso in hospitaal ná fietsongeluk

Fernando Alonso. Foto: Clive Mason/Getty Images/AFP.

Fernando Alonso, die Spaanse renjaer, is in ’n Switserse hospitaal opgeneem nadat hy deur ’n motor getref is terwyl hy fiets gery het.

Die 39-jarige Alonso sal vanjaar sy terugkeer tot F1-wedrenne maak nadat hy onder meer deel van die Dakar-tydwedrenaksie was. Hy sal agter die stuur van Alpine se renmotor klim.

Volgens ’n amptelike verklaring is die Spanjaard by sy volle bewussyn, terwyl daar verdere toetse gedoen sal word.

Hoewel die omvang van sy beserings onbekend is, berig oorsese media dat hy sy kakebeen gebreek het. Die moontlikheid bestaan dus dat hy die aanvang van die seisoen sal misloop.

Alonso is ’n kranige fietsry-entoesias en die ongeluk het naby sy huis in Switserland plaasgevind.

Intussen het verskeie motorsportsterre hom beterskap toegewens.

“Sopas van my vriend Fernando Alonso se ongeluk gehoor. Ek wens hom ’n spoedige herstel toe,” het Yazeed Al-Rajhi, ’n Dakar-deelnemer, gesê.

Die geruite vlag is al in 32 F1-wedrenne eerste vir Alonso geswaai, terwyl hy twee wêreldtitels agter sy naam het.

Hy is een van die talentvolste renjaers in motorsportgeskiedenis. Saam met sy F1-titels het hy ook al met die louere by die Le Mans- en Indy 500-reekse weggestap. Hy het vanjaar ook 13de in sy eerste probeerslag by die moordende Dakar-uithourit geëindig.

En op 39 sal hy die tweede oudste deelnemer naas die 41-jarige Kimi Räikkönen van Alfa Romeo wees.

Die F1-seisoen begin op 28 Maart in Bahrein.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Stefan ·

Beterskap Alonso.
Dit wil wraggies lyk of fietsry gevaarliker is as Formula 1.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.