Alonso jaag met titaan-plaatjies in kaak

Fernando Alonso (Foto: AP Photo)

Die Spaanse renjaer Fernando Alonso sal met twee titaan-plaatjies in sy kaak moet bestuur wanneer die F1-seisoen afskop.

Die 39-jarige renjaer het sy kakebeen vroeër vanjaar in ’n fietsry-ongeluk gebreek, maar dit lyk nie asof dit hom hinder nie. Hy het pas een van die vinnigste tye in die voorseisoense toetsessie in Bahrein losgery. Selfs vinniger as Mercedes se Lewis Hamilton.

Alonso is deesdae deel van die Alpine-renspan en hy het die beste tyd in die oggendtoetssessie losgejaag.

“Ek verwag geen probleme nie. Agter die stuur behoort dinge vlot te verloop; ek sal egter teen die einde van die seisoen die twee plaatjies moet laat verwyder,” het hy gesê.

Die Spanjaard is een van die talentvolste renjaers in motorsportgeskiedenis. Saam met sy twee F1-titels het hy ook al met die louere by die Le Mans- en Indy 500-reekse weggestap. Hy het ook 13de in sy eerste probeerslag by die moordende Dakar-uithourit geëindig.

“Ek besluit om my F1-terugkeer te maak omdat ek beter as ooit vantevore voel én bestuur. Daar sal ’n paar dinge wees waaraan ek weer gewoond moet raak, maar ek voorspel dat alles glad sal verloop.”

Hoe dinge in vanoggend se oefenrondes gelyk het:

  1. Fernando Alonso (Alpine) 1:32.339
  2. Daniel Ricciardo (McLaren) +0.259
  3. Carlos Sainz (Ferrari) +0.733
  4. Nikita Mazepin (Haas) +0.762
  5. Lewis Hamilton (Mercedes) +1.060

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.