Alonso sê podium het vir hom gewink

Fernando Alonso. Foto: Andrej Isakovic/AFP.

Fernando Alonso het sesde in die afgelope naweek se Russiese Grand Prix geëindig, maar hy meen dat ’n podiumplek binne sy bereik was.

Volgens die 40-jarige Spanjaard het sy Alpine-renmotor se spoed hom die meeste beïndruk. Hy kon aanvanklik by Sergio Perez kers vashou, terwyl hy ook ’n keer vir Max Verstappen verbygesteek het. En almal weet hoe vinnig ’n Red Bull is.

“Die motor het omtrent op die renbaan gevlieg en ek glo dat ons eintlik meer verdien het. Toe dit begin reën het, het ons vir Daniel Ricciardo (McLaren), Perez en Carlos Sainz (Ferrari) verbygesteek om skielik derde te wees. Ek het werklik gedink dat ’n podiumplek moontlik was, en dit boonop op meriete,” het Alsonso gesê.

Hy het egter dalk ’n bietjie te lank in die reën uitgehou voordat hy die kuipe besoek het. Verstappen, Valtteri Bottas en Daniel Ricciardo – wat almal betyds hul bande verander het om by die nat toestande te pas – het voor hom klaargemaak.

“Ek dink nie ’n mens kan met sekerheid voorspel hoe hard dit gaan reën nie, maar die dobbelsteen het reg geval vir die ouens wat vroeër die kuipe besoek het. Ja, as ’n span het ons dalk meer en beter verdien, maar ons sien nou uit na die volgende wedren in Istanbul.”

Die geruite vlag is al 32 keer vir Alonso in F1-wedrenne geswaai, terwyl hy twee wêreldtitels agter sy naam het.

Hy is een van die talentvolste renjaers in motorsportgeskiedenis. Saam met sy F1-titels het hy ook al met die louere in die Le Mans- en Indy 500-reeks weggestap. Hy het ook 13de in sy eerste probeerslag in die moordende Dakar-uithourit geëindig.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.