Alonso uit hospitaal ontslaan

Fernando Alonso. Foto: Miguel Medina/AFP.

Die Alpine-renjaer Fernando Alonso is gister [Maandag] uit die hospitaal ontslaan nadat hy verlede week deur ’n motor getref is terwyl hy fiets in Switserland gery het.

Volgens die Switserse polisie het hy teen ’n motor gebots wat besig was om by ’n winkelsentrum in te draai.

Die 39-jarige Spanjaard moes ’n operasie ondergaan nadat sy kaak in die ongeluk beseer is. Medici is egter tevrede met sy vordering en hy sal verder by die huis aansterk.

Volgens Alpine sal die voormalige wêreldkampioen vir ’n rukkie rus, waarna hy volstoom vir die komende F1-seisoen sal begin voorberei.

Alonso is self optimisties oor sy spoedige terugkeer agter die stuur.

“Dankie vir almal se beterskapwense. Ek is oukei en sien uit na 2021 om te begin,” het hy op sosiale media geskryf.

Volgens berigte sal Alonso sy span se A521-renmotor op 12-14 Maart in Bahrein toetsbestuur.

Die geruite vlag is al in 32 F1-wedrenne eerste vir Alonso geswaai, terwyl hy twee wêreldtitels agter sy naam het.

Hy is een van die talentvolste renjaers in motorsportgeskiedenis. Saam met sy F1-titels het hy ook al met die louere by die Le Mans- en Indy 500-reeks weggestap. Hy het vanjaar ook 13de in sy eerste probeerslag by die moordende Dakar-uithourit geëindig.

En op 39 sal hy die tweede oudste deelnemer naas die 41-jarige Kimi Räikkönen van Alfa Romeo wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.