Alonso vertoon sterker in sy SA Toyota

Joan Barreda van Spain ry met sy Honda-motorfiets. (AP Photo/Bernat Armangue)

Spanje se Carlos Sainz is met die 33ste skofoorwinning van sy loopbaan die nuwe voorloper in die 2020-weergawe van die Dakar-wedren in Saoedi-Arabië.

Die 57-jarige jaer het die skof van 404 km in ’n tyd van 3:48:01 voltooi. Sy oorwinning beteken ook dat die Mini-bestuurder die nuwe algehele voorloper is; ’n paar minute voor Toyota Gazoo Racing se Nasser al-Attiyah.

Eergister se skofwenner, Suid-Afrika se Giniel de Villiers, het ’n minder goeie dag gehad en hy het negende klaargemaak. Dié Toyota Gazoo Racing-spanlid is nou in die algehele sewende plek saam met sy navigator, Alex Bravo.

“Dit het weer eens vir moeilike navigasiewerk gesorg, maar ek kon darem by die voorlopers bly. Nasser en Carlos het egter vandag bitter vinnig gejaag,” het De Villiers gesê.

Die voormalige Formule Een-wêreldkampioen, Fernando Alonso, het baie beter gevaar en vyfde in sy Suid-Afrikaanse vervaardigde Toyota klaargemaak. Hy was egter steeds 16,21 minute stadiger as Sainz.

In die motorfietskategorie het gister se skofwenner, Botswana se Ross Branch, hard met die woestynterrein kennis gemaak. Hy het ná 88 km homself met ’n draai misgis en sy skouer beseer.

“Danksy die val was dit nou nie die beste dag vir my gewees nie, maar ek het steeds die eindstreep gehaal. Ek sien uit om nou vorentoe te beweeg en my bes vir die res van die wedren te gee,” het Branch gesê.

Guillaume Cholet, Adrien van Beveren, Olaf Harmsen en Martien Jimmink kon nie die skof voltooi nie.

Hoe dinge ná die derde dag lyk:

  1. Carlos Sainz en Lucas Cruz van die Bahrain JCW X-Raid-span.
  2. Nasser al-Attiyah en Matthieu Baumel van Toyota Gazoo Racing.
  3. Orlando Terranova en Bernardo Graue van die die X-RAID Mini JCW-span
  4. Yazeed al Rajhi en Konstantin Zhiltsov van Overdrive Toyota
  5. Stephane Peterhansel en Paulo Fiuza van die Bahrain JCW X-Raid-span
  6. Mathieu Serradori en Fabian Lurquin van SRT Racing.
  7. Giniel de Villiers en Alex Bravo van Toyota Gazoo Racing.
  8. Bernhard ten Brinke en Tom Colsoul van Toyota Gazoo Racing.
  9. Martin Prokop en Viktor Chytka van MP-Sports.
  10. Vaidotas Zala en Saulius Jurgelenas van Agrorodeo.
  • Jeanette Kok-Kritzinger van Wiele2Wiele en Stephie Vetter van die Southern Africa Dakar Group hou ons op hoogte van wat by die Dakar-wedren gebeur en hoe dit met deelnemers van Suider Afrika gaan. Luister na die klankinsetsel bo-aan die berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.