Alonso weer terug op die podium!

Lewis Hamilton was blitsig in Katar. Foto: Twitter .

Lewis Hamilton het vandag die Katarese Grand Prix gewen om nader aan Max Verstappen op die jaerspunteleer te kruip.

Tog het die jong Red Bull-renjaer genoeg gedoen om toe te sien dat die blitsige Mercedes nie te veel skade kon aanrig nie.

Verstappen, wat met vyf plekke op die wegspringrooster beboet is omdat hy in die kwalifiserende rondes nie op ’n geel waarskuwingsvlag gereageer het nie, het spoedig weer sy pad na die tweede plek oopgeveg.

Hy het ook vir die vinnigste tyd om die renbaan gesorg om ’n bykomende punt in te oes.

Maar die lekkerste storie van die dag se aksie is ongetwyfeld Fernando Alonso wat weer terug op die podium is nadat hy laas tydens die Hongaarse Grand Prix van 2014 daarop gestaan het.

Die 40-jarige Spanjaard was die bestendigheid vanself en hy het welverdiend die derde plek losgejaag.

Fernando Alonso het weer op ’n F1-podium gestaan. Foto: Andrej Isakovic/AFP.

Dit was die 98ste F1-podiumplek van sy merkwaardige motorsportloopbaan. Benewens sy F1-heldedade (wat twee wêreldtitels insluit) was hy ook al in aksie by Le Mans en die Indy 500-reekse, terwyl hy heel skaflik in sy eerste Dakar-probeerslag gevaar het.

“Daar is baie talentvolle renjaers op die wegspringrooster en dit gaan ongetwyfeld ’n uitdaging wees om op die podium te eindig, maar ek is ’n beter bestuurder,” het hy vroeër in ’n onderhoud met BBC Sport gesê.

En vandag het hy beslis sy vernuf agter die stuur van ’n renmotor ten toon gestel.

Die baan het egter verwoesting onder sommige van die bestuurders gesaai en Valtteri Bottas, George Russell en Nicholas Latifi het almal probleme met hul bande ondervind.

Bottas se teenspoed beteken dat Red Bull in Mercedes se nek op die vervaardigerspunteleer blaas.

Uitslae:

  1. Lewis Hamilton (Mercedes)
  2. Max Verstappen (Red Bull)
  3. Fernando Alonso (Alpine)
  4. Sergio Perez (Red Bull)
  5. Esteban Ocon (Alpine)
  6. Lance Stroll (Aston Martin)
  7. Carlos Sainz (Ferrari)
  8. Charles Leclerc (Ferrari)
  9. Lando Norris (McLaren)
  10. Sebastian Vettel (Aston Martin)

Jaerspunteleer:

  1. Max Verstappen 351, 5 punte
  2. Lewis Hamilton 343, 5 punte
  3. Valtteri Bottas 203 punte
  4. Sergio Perez 190 punte
  5. Lando Norris 153 punte
  6. Charles Leclerc 152 punte
  7. Carlos Sainz 145,5 punte
  8. Daniel Ricciardo 105 punte
  9. Pierre Gasly 92 punte
  10. Fernando Alonso 77 punte

Vervaardigerspunteleer:

  1. Mercedes 546,5 punte
  2. Red Bull 541, 5 punte
  3. Ferrari 297,5punte
  4. McLaren 258 punte

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Richard ·

Die Mercedes is nou weer strate beter as die Red Bull. Dis wanneer Hamilton wen. Hy sal nie vir Verstappen klop as hulle in dieselfde motor meeding nie.

piet ·

Wen Hamilton, is sy motor te vinnig. Wen Verstappen, is dit omdat hy ‘n beter jaer is. Julle ouens laat my lag. Gee die man krediet, hy het al al die wereldrekords laat spat wat daar is. LOL

Emile ·

Max Verstappen het nie BLM as baggasie op die baan wanneer hy en Hamilton in dieselfde voertuig ry nie en sal wen

Groen Ghoen ·

Gaap. Mag enigiemand anders tog net weer die F1 kampioenskap wen, al is dit dan ook Biden op sy baaisiekel. Wat nou aan die gebeur is, is werklik uiters verskriklik vreeslik vervelig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.