Anderson-hulle teen Djokovic en kie

Kevin Anderson. Foto: ANA.

Suid-Afrika sal eerste teen Novak Djokovic se Serwië te staan kom in hul eerste wedstryde van die nuwe ATP-beker in Australië.

En moenie dink die Suid-Afrikaners gaan terugstaan vir hul gedugte teenstanders nie. Volgens Jeff Coetzee (afrigter) glo die span dat hulle die wa deur die drif kan trek.

“Ons beskik oor genoeg selfvertroue en ons voorbereidingswerk het goed verloop. Ons is pleinweg opgewonde oor die toernooi en kan nie wag om deel te neem nie,” het Coetzee gesê.

Lloyd Harris laat waai met sy raket. Foto: Facebook.

Volgens Coetzee handhaaf die Suid-Afrikaners ’n goeie balans tussen jong talent en die ervaring van Kevin Anderson en Raven Klaasen. Tog sal Serwië glad nie maklike teenstanders wees nie; hulle het immers vir die wêreld se tweede voorste speler, Novak Djokovic, in hul geledere.

“Ons moet in onsself glo en dat ons goed genoeg is om hulle te klop. Op papier is hulle by verre die gunsteling, maar enigiets is moontlik as ons met genoeg selfvertroue speel. Terselfdertyd is dit wonderlik om vir Kevin in die span te hê; hy is ’n bobaasspeler en sal ons beslis help om sterk weg te spring.”

Die 33-jarige Anderson sal ’n welkome terugkeer tot die ATP-toer maak wanneer hy môre in Brisbane vir Suid-Afrika op die baan stap.

Novak Djokovic. Foto: Charles Krupa, AP.

“Dit is ’n wonderlike geleentheid om Suid-Afrika in dié spesifieke formaat te verteenwoordig. Ons het ’n goeie span met Lloyd – wat net beter en beter word – en Raven wat ’n briljante dubbelspel-jaar agter die blad het,” het Anderson gesê.

Hoewel hy nie ’n mededingende tenniswedstryd sedert Julie verlede jaar gespeel het nie, sal hy ’n leidende rol vir die Suid-Afrikaners speel. Sy spanmaats is Harris, Klaasen, Ruan Roelofse en Kholo Montsi.

Anderson en Harris sal die enkelspelveldtog lei, terwyl Klaasen en Roelofse in dubbelspel-aksie sal wees.

Die kragmetings word môre vanaf 09:30 op SuperSport 6 uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.