Anderson in laaste 16; Nadal op koers na tiende titel

Kevin Anderson – deur na die laaste 16 (Foto: Twitter Kevin Anderson)

Met Rafael Nadal en Caroline Wozniacki onder die eerste spelers wat reeds deur is na die kwarteind, is daar vir Suid-Afrika die goeie nuus dat die Suid-Afrikaner Kevin Anderson na die laaste 16 van die Franse Ope-tennistoernooi deurgedring het.

Novak Djokovic het in Sondagaand se laaste wedstryd van die dag met ʼn baie moedige Albert Ramos-Viñolas afgereken en hy is nou ook in die kwarteindronde op pad na sy tweede Franse Ope-titel. Sy volgende teenstander is Dominic Thiem.

Nadal het die titel al nege keer gewen terwyl Djokovic sy 2016-titel verdedig.

♦  Anderson het na drie taai wedstryde die vierde ronde gehaal. Hy is ʼn ronde agter die spelers wat reeds die kwarteind gehaal het weens reën wat die toernooi ontwrig het.

Sy eerste wedstryd teen die Tunisiër, Malek Jaziri, is in skoon stelle afgehandel.

Sy tweede wedstryd was teen die 18de gekeurde Nick Kyrgios. Die ongekeurde Anderson het die eerste stel met 5-7 afgestaan maar daarna beheer oor die wedstryd gekry en in vier stelle teen die ongeskikte maar talentvolle Australiër gewen: 5-7, 6-4, 6-1, 6-2.

Oudergewoonte was Anderson se venynige afslaan sy belangrikste wapen.

Kyle Edmund, die 22-jarige Brit wat 42ste op die wêreldranglys is (teenoor Anderson se 56ste posisie) was ʼn moeilike kalant wat vir Anderson vir vier uur en vyf stelle op die baan gehou het. Die telling was 6-7, 7-6, 5-7, 6-1, 6-4 in Anderson se guns.

♦  Die 31-jarige Anderson was al in die top10 op die rangleer maar beserings het sy loopbaan gekniehalter en hy het 2016 omtrent geen tennis kon speel nie.

Hy sal in die vierde ronde vir die sewende gekeurde Marin Cilic as teenstander hê.

Spelers wat reeds vir die kwarteindronde gekwalifiseer het, is die vroue Timea Bacsinszky, Jelena Ostapenko en Kristina  Mladenovic. Wat die mans betref het Pablo Carreno Busta vir Milos Raonic geklop om sy landgenoot, Nadal, in die kwarteindronde te ontmoet.  Dominic Thiem het vir Horacio Zaballos vir sy plek in die kwarteindronde geklop.

♦  Spelers wat nie vanjaar op Roland Garros se kleibane te siene was nie, is Roger Federer wat sy lewe as beroepspeler met minder toernooie wil probeer verleng, en Serena Williams wat haar eerste baba verwag.

Maria Sharapova het nie gekwalifiseer nie en het ook nie ʼn uitnodiging ontvang nie. Haar skorsing oor die gebruik van ʼn verbode middel is wel verby maar sy is in sekere geledere nog ʼn persona non grata.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nadal ·

Dis sekerlik Nadal wat oppad na sy 10de Franse titel is en nie Djokovic nie!!

Wim van der Berg ·

Verskoning vir die glips en dankie! Dis reggemaak

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.