Anderson: ’n Vuurspuwende kishoumeester

Kevin Anderson het 49 kishoue in sy eerste Amerikaanse Ope-wedstryd afgevuur. Foto: Matthew Stockman/Getty Images/AFP.

Kevin Anderson het in die eerste ronde van die Amerikaanse Ope ’n verstommende 49 kishoue afgevuur om Jiri Vesely van die Tsjeggiese Republiek in vyf stelle te klop.

Die eindtelling was 7-6, 4-6, 3-6, 7-6 en 7-6 in die Suid-Afrikaner se guns.

Anderson se kishoupogings is die derde meeste in ’n Amerikaanse Ope-kragmeting. Net John Isner (52) en Ivo Karlovic (62) kon meer kishoue in ’n wedstryd afvuur.

“Ek dink ek was bestendig met my afslane, maar ek is dankbaar dat ek my beste pogings vir die valbylsessies gebêre het,” het Anderson gesê.

In die laaste stel kon Vesely 17 keer nie ’n antwoord op Anderson se afslane vind nie en die 35-jarige Suid-Afrikaner het die wedstryd heel gepas met ’n kishou beklink.

“Dit was ’n opwindende wedstryd en teen die einde het die toeskouers lekker saamgesels; dit het gevoel of baie mense my ondersteun.”

Anderson was al vyfde in die wêreld gekeur, voordat ’n rits beserings sy loopbaan gekniehalter het. Hy het in 2017 in die eindstryd van die Amerikaanse Ope teen Rafael Nadal verloor.

Hy sal volgende teen Argentinië se Diego Schwartzman te staan kom.

Lloyd Harris, Suid-Afrika se voorste manspeler, speel later vandag teen Rusland se Karen Khachanov.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.