Anderson slaan kitaar; nou onder top-10

Kevin Anderson in aksie tydens sy wedstryd teen Sam Querrey. Foto; AP Photo/Seth Wenig

Suid-Afrika se Kevin Anderson het sy eerste gekeurde posisie goed gebruik toe hy die ATP New York Ope die naweek gewen het. Anderson het die tweede gekeurde Sam Querry met 4-6, 6-3 en 7-6 (1) in Uniondale, New York, geklop.

Die titel is Anderson se vierde ATP-titel van sy loopbaan. Dit was egter die belangrikste een nóg aangesien hy nou onder die top-tien op die jongste wêreldranglys is. Anderson is nou in die negende posisie, sy beste posisie nog op die ATP-ranglys.

Anderson se laaste ATP-titel was in 2015 toe hy die Fransman Pierre-Hugues Herbert in die eindstryd van die Winston-Salem-ope in Noord-Carolina, in die VSA, uitgestof het.

Op pad na die eindstryd moes Anderson hard spook en ook ʼn paar lang wedstryde deursien.

“Natuurlik stap jy op die baan en wil so vinnig en maklik as moontlik wen en klaarmaak met die wedstryd,” het Anderson gesê oor die paar lang wedstryde. “Maar ek dink ek het baie vertroue in die manier waarop ek deur die moeilike wedstryde kon kom.

“Ek is behoorlik beproef want elke wedstryd het drie stelle lank geduur. Drie van die vier wedstryde het selfs die telling van 7-6 in die derde stel bereik. Ek het van my beste tennis gespeel toe dit saak gemaak het.

“Ek dink as jy deur daardie moeilike wedstryde kan kom, kan jy regtig baie vertroue daaruit put. My liggaam het goed gereageer, en dit is altyd ʼn pluspunt.

“Ek was in staat om elke keer te fokus en dit was beslis ʼn goeie bewys van my houding en my ingesteldheid waaraan ek baie hard werk.”

Om die New York-eindstryd te wen, het vir Anderson heelwat beteken want hy het reeds 11 nederlae in ATP-eindstryde gely.

“Ek was ʼn hele paar keer in my loopbaan in die eindstryd maar kon net nie wen nie. Een van die groot doelwitte wat ek vir hierdie jaar gehad het, was om tot die einde deur te druk en meer suksesvol te wees,” het Anderson bygevoeg.

“Dit voel lekker om hierdie oorwinning te kon behaal. Dit gee my baie selfvertroue vir die jaar. Ek voel beslis baie goed om oor die laaste hekkie te kon kom en met die titel weg te stap.”

Anderson neem hierdie week deel aan die Delray Beach Ope en hy is derde gekeur vir dié toernooi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Santie ·

So trots op hom! Hoop hy vorder nog ver en wen een van hierdie toernooie vir SA!

Boerseun ·

Nie so seker hy wen dit vir SA nie. Hy het lankal sy rug gedraai. Wys net hoe gryp die libs na elke vermaaklikheids strooi halmpie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.