Anderson wil 2020 sý jaar maak

Kevin Anderson. Foto: Twitter via @Wimbledon

Suid-Afrika se Kevin Anderson het ’n teleurstellende 2019 agter die blad, maar hy is gereed vir die uitdagings wat 2020 bied.

Die 33-jarige het pas in Australië geland waar hy ’n sleutelrol sal speel in Suid-Afrika se aanslag op die splinternuwe ATP-bekertoernooi wat hierdie Vrydag wegspring.

Suid-Afrika se veldtog begin Saterdag in Brisbane waar hulle teen Serwië sal kragte meet.

Goeie nuus is dat Anderson nie kan wag om weer sy raket in ’n kompeterende stryd te swaai nie. Ná sy knieoperasie in September het hy verlede jaar as die ATP se 91ste beste speler afgesluit; ligjare weg van sy top-10-plek vroeër in 2019.

“Ek het baie op my rehabilitasiewerk gekonsentreer en het hard saam met my fisioterapeut en afrigtingspan gewerk om my vir die 2020-seisoen gereed te kry. Ek sien baie daarna uit om die jaar in Brisbane te begin,” het hy gesê.

“Daarby is ek opgewonde oor die komende toernooi; dit is ’n super inisiatief en die spelers sien baie daarna uit om vir hul land in die nuwe spankampioenskap te speel. Suid-Afrika het ’n moeilike groep in Brisbane, maar ek kan nie wag om te speel nie.”

Die Suid-Afrikaner spog boonop met ’n splinternuwe afrigter. Die Argentyn Diego Moyano het saam met Anderson na Australië gereis.

“Diego het goeie werk vir die Amerikaanse tennisbeheerliggaam gedoen en toe ek gehoor het hy is beskikbaar, het ek die geleentheid met beide hande aangegryp. Ons het eers ’n proeflopie gedoen en ons twee het baie goed saamgewerk.”

Hy het bygevoeg dat Jay Bosworth ook nog deel van sy afrigterspan is.

Hoewel hy ’n hele paar van Suid-Afrika se Davisbeker-veldtogte weens sy besige internasionale skedule misgeloop het, stel hy steeds baie in plaaslike tennis belang.

Anderson sal op 2 Februarie teen Lloyd Harris in ’n vertoonwedstryd in Soweto kragte meet.

“Ek was nog altyd trots om die Suid-Afrikaanse vlag langs my naam by internasionale toernooie te sien en hopelik kan ek die volgende geslag Suid-Afrikaanse tennissterre tot groter hoogtes inspireer.

“Ek en Lloyd het die unieke geleentheid om ’n positiewe invloed op Suid-Afrikaanse jeug te hê. Dit is belangrik dat ons ’n leidende rol sal speel in die ontwikkeling van die spel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.