Kaapstad-fietstoer: 20-jarige maak skoonskip

Travis Barret. (Foto: Twitter)

Die 20-jarige Travis Barrett van die OfficeGuru-fietsryspan het Sondag die laaste 200 m van die Kaapse fietsrywedren as die langste skof van sy lewe beskryf toe hy veelgeroemde teenstanders uitgestof het in ʼn spannende naelrit eindstreep toe.

Altesame 30 000 jaers het aan vanjaar se wedren deelgeneem en dit was die 42ste keer dat dit plaasgevind het.

Barrett het die afstand van 109 km, wat in perfekte toestande plaasgevind het, in 2 uur 30 minute en 24 sekondes voltooi. Hy is gevolg deur Clint Hendricks (wat verlede jaar derde was), Dylan Girdlestone, Jayde Julius, Louis Visser en Jaco Venter (wat vandeesweek se Toer van die Goeie Hoop gewen het). Almal is dieselfde tyd toegeken.

Volgens Barrett het hy maande lank beplan om een van die land se grootste wedrenne te wen.

Hy het sy span bedank vir al die harde werk, veral teen Chapmanspiek uit en Suikerbossie. Dis hier waar Bizay Redea, Barrett en Venter die toon aangegee het, hoewel die meeste van die ander naelryers op pad na Houtbaai hulle weer by die voorste groep aangesluit het vir die naelrit eindstreep toe in Groenpunt.

In ʼn twiet ná die wedren het Barrett laat weet: “Ek kan dit nie glo nie. Dit is waaroor ek elke jaar droom.”

Barrett se wentyd was heelwat vinniger as dié van Nolan Hofmann, verlede jaar se wenner met ʼn tyd van 2:39:42.

* In die afdeling vir vroue het Cherise Willeit (Customimez Cycling Bioplus) in ʼn tyd van 2:07:48 gewen. Dit was haar vyfde titel en sy is gevolg deur Frances Janse van Rensburg en Hayley Preen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ek kan ·

Ry mans en vroue nie dieselfde wedren nie? Die vrou wat gewen het, se tyd was heelwat vinniger as die man wat gewen het…. 2:07:48 teenoor 2:30:24.
Welgedaan aan al die ryers wat die wedren voltooi het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.