Aryna bly staande om uitklophou te plant

Aryna Sabalenka. (Foto: Twitter/WTA)

Aryna Sabalenka, binnekort die nuwe wêreldnommereenspeler, is deur na die eindstryd van die Amerikaanse Ope nadat sy met Madison Keys klaargespeel het.

Die 25-jarige Belarussiese speler moes diep delf nadat haar Amerikaanse teenstander die eerste stel op ʼn drafstap gewen het. Sy kon egter steeds die wedstryd met 0-6, 7-6 en 7-6 beklink.

Sodoende het sy slegs die derde vrou in die Ope-era – naas Steffi Graf en Ana Ivanovic – geword om ʼn Grand Slam-halfeindstryd te wen nadat sy die eerste stel met 6-0 verloor het.

“Dit was ʼn ongelooflike wedstryd en Madison het puik gespeel. Ek is egter baie trots op myself dat ek dinge kon omkeer,” het Sabalenka gesê.

“Ek het myself heeltyd herinner dat geen wedstryd verby is totdat die wenhou geslaan is nie. Ek moes net aanhou baklei en probeer om met meer ritme te speel. Op een of ander geheime manier kon ek dit toe regkry!”

Sabalenka, wat vanjaar reeds in die halfeindstryd van die Australiese Ope, Franse Ope en Wimbledon gespeel het, sal Saterdag vir Coco Gauff die stryd om die silwerware in New York aansê.

In die mansafdeling kruis Novak Djokovic rakette met Ben Shelton in die eerste halfeindstryd, terwyl Carlos Alcaraz en Daniil Medvedev in die ander uitklopwedstryd slaags is.

Uitslae:

Aryna Sabalenka klop Madison Keys met 0-6, 7-6 en 7-6

Coco Gauff klop Karolina Muchova met 6-4 en 7-5

Manshalfeindstrydbepalings:

Novak Djokovic teen Ben Shelton

Carlos Alcaraz teen Daniil Medvedev

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.