ATP-baas onseker oor Federer se terugkeer

Roger Federer. Foto: Ben Solomon/AFP.

Roger Federer se laaste tenniswedstryd was op 7 Julie 2021 op Wimbledon. Ná drie stelle kon die Switserse tennislegende nie daarin slaag om vir die halfeindstryd van sy geliefde toernooi te kwalifiseer nie.

Die Switserse tennislegende is staande toegejuig terwyl hy van die baan gestap het; hy het ’n paar keer met sy hand deur sy hare gevryf en vir die toeskouers gewaai voordat hy in die rigting van die kleedkamers verdwyn het.

“Om eerlik te wees, ek weet nie of dit my laaste Wimbledon was nie. Ek moet deesdae ongetwyfeld harder in wedstryde werk. Ek het baie idees op die baan, maar ek kan nie altyd meer doen wat ek wil nie,” het Federer (toe 39 jaar oud) gesê.

Sedertdien het die tennismeester sy 40ste verjaardag gevier, ’n hele paar groot toernooie misgeloop en nóg ’n knieoperasie ondergaan.

Tog brand sy tennisvlam nog helder en hy het vroeër aangedui dat hy weer kragte met Rafael Nadal by die Laver-beker sal saamsnoer.

“Rafa het ná verlede jaar se toernooi in Boston vir my ’n boodskap gestuur en gevra of ons dubbels in Londen sal speel. Ek is beslis gerat vir Fedal se terugkeer!” het Federer destyds gesê.

Maar volgens Andrea Gaudenzi, voorsitter van die ATP-tennisbeheerliggaam, moet tennisliefhebbers nie te opgewonde raak oor ’n moontlike Federer-terugkeer nie.

 Foto: Martin Bureau/AFP.

“Ons almal sien baie daarna uit om vir Roger weer op die groot verhoog te sien speel, maar hy is nie haastig ná al sy operasies nie. Elke wedstryd wat hy nog speel, sal soos ’n geskenk vir ons wees. Ons hou beslis duim vas,” het Gaudenzi gesê.

Tog behoort Nadal se Melbourne-heldedade vir Federer hoop gee.

’n Voetbesering het die Spanjaard geruime tyd langs die baan gehou en hy het erken dat hy begin twyfel het of hy ooit weer op die groot verhoog sou afslaan.

Hy het egter uitstekende tennis in Australië gespeel om vir die veel jonger Daniil Medvedev in die eindstryd ore aan te sit.

In sy huldeblyk het Federer gesê dat Nadal vir hom ’n inspirasie is.

“Dit is verstommend om te dink dat ons al twee net ’n paar maande gelede mekaar oor ons krukke geterg het. Wys jou net: ’n Mens moet nooit ’n groot kampioen onderskat nie,” het Federer gesê.

“Jou ongelooflike werketiek, toewyding en veggees is vir tennisliefhebbers wêreldwyd ’n inspirasie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

VaalDonkie ·

Om 40 te wees en op Wimbledon mee te ding is self ‘n prestasie. Hoop hy’t sy geldjies mooi gespaar sodat hy welverdiend vroeg kan aftree.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.