ATP-beker: SA behaal eerste oorwinning

Kevin Anderson in aksie. Foto: (AP Photo/Tertius Pickard)

Suid-Afrika het sy eerste oorwinning in die stryd om die ATP-beker in Brisbane, Australië, behaal.

Die Suid-Afrikaners het met 3-0 oor Chili geseëvier. Lloyd Harris het Nicolas Jarry met 6-4, 6-4 geklop terwyl Kevin Anderson vir Christian Garin met 6-0, 6-3 laat les opsê het.

“Ek het goed begin en ek voel dat ek baie dinge waaraan ek gewerk het kon implementeer,” het Anderson aan ATPtour.com gesê.

“Dit was wonderlik dat ek ʼn goeie wedstryd kon speel en met Lloyd wat ook goed gespeel het, het ons ons eerste oorwinning vir die span gekry.”

Die dubbelspaar Raven Klaasen en Ruan Roelofse het Garin en Jarry later met 1-6, 6-3 en 10-7 geklop om dit 3-0 vir Suid-Afrika te maak.

Jeff Coetzee, spankaptein, is baie tevrede met die span se prestasie. “Dit is ʼn groot hupstoot vir die span se selfvertroue. Almal het hul kant gebring en dit was ʼn groot spanpoging.”

Suid-Afrika speel Woensdag teen Frankryk en volgens Coetzee gaan dit nie maklik wees nie.

“Ek dink die wyse waarop ons vandag [individueel] en as ʼn span gespeel het gee vir ons ʼn goeie aanduiding van wat ʼn span kan doen wanneer hulle ubuntu het. Ek is hoopvol dat ons verder in die toernooi kan vorder.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae