Aussies wag vir Proteas in netbalhalfeindstryd

Die Proteas het gisteraand weliswaar hulle eerste nederlaag gely, maar hulle het reeds onder andere met Skotland en Jamaika afgereken. Nou wag Australië in die halfeindstryd. Foto: Press Association via AP Images.

Die Proteas het Donderdagaand in Liverpool hul eerste nederlaag van die Wêreldbeker-netbaltoernooi gely, toe hulle 47 – 58 teen Engeland verloor het.

Norma Plummer se span was effens stadig uit die blokke en hulle het die eerste kwart met 11 – 19 verloor.

Die Engelse Rose het nie hul voet van die versneller gehaal nie en ná twee kwarte het hulle ’n gemaklike voorsprong van 31 – 20 geniet. Hul doel, Helen Housby, het ’n skitterwedstryd gehad en 94% van haar doele gesink.

Tog het die Proteas – weer eens anders as hul krieket-eweknie in die Wêreldbeker-krieketskouspel – nie moed verloor nie en enduit druk op die Rose toegepas.

Die Suid-Afrikaners het in die laaste twee kwarte net soveel doele (27) as hul Engelse teenstanders aangeteken en hulle het die laaste 15 minute van die spel 17 – 15 gewen.

Die span se kaptein, Bongiwe Msomi, het die baan vroeg in die wedstryd verlaat, maar sy sal gereed wees vir die naweek se Australiese tweestryd.

“Die meisies was lekker op hul senuwees vroeg in die wedstryd, maar hulle het stelselmatig met meer rustigheid begin speel. Ons het gisteraand bietjie met die span geëksperimenteer in ’n poging om vir almal speelkans vóór die halfeindstryd te gee,” het die span se hulpafrigter, Nicole Cusack, gesê.

Die vlinders in die maag het egter nie net by die Proteas rondgefladder nie, die Engelse was self ook taamlik skrikkerig vir die Suid-Afrikaanse aanslag.

“Suid-Afrika is ’n span waarteen ons sukkel. Ons wedstryde teen hulle is altyd spanningsvol en hulle het ons juis in Januariemaand ore aangesit; dus was ons werklik op ons senuwees. Maar ek sou sê dat vanaand se wedstryd waarskynlik een van ons beter vertonings oor die afgelope twee jaar was,” het Engeland se Jo Harten gesê.

  • Hoe die kwarte opgedeel was:

Eerste kwart: Suid-Afrika 11 – 19 Engeland

Tweede kwart: Suid-Afrika 9 – 12 Engeland

Derde kwart: Suid-Afrika 10 – 12 Engeland

Vierde kwart: Suid-Afrika 17 – 15 Engeland

  • Die Proteas speel môre om 12:15 teen Australië en die wedstryd word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

kolla ·

Eintlik kon hulle nog net een wereldklas-span, Jamaika, klop. Die span is darem baie beter as wat hulle in die verlede was. Telkom se aansporingsbonusse lyk veilig.

LK ·

ag eks so jammer oor die nedelaag teen Engeland. miskien was die miljoen Rand wortel net te oorweldigend. Dit gaan beter gaan, julle gaan wen hoor!!! baie sterkte.

Ansie ·

7 spelers kan darem ook nie teen 8 speel nie – veral as die 8ste 1 n fluitjie het

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.