Australiër wen Franse Ope

Australië se Ashleigh Barty (7 Junie 2019) (Foto: AP Photo/Michel Euler)

Die Australiër Ashleigh Barty, die agtste gekeurde, het Saterdag die Tsjeggiese Republiek se Markéta Vondroušová in twee stelle geklop tydens die vroue-eindstryd van die Franse Ope.

Barty (23) het 6-1, 6-3 met die 19-jarige Vondroušová afgereken. Sy is die eerste Australiese vrou in 46 jaar om by Roland Garros te wen sedert Margaret Court in 1973.

Barty het in 2014 die tennisbaan vir krieket verruil, maar in 2016 teruggekeer en vinnig die rangleer geklim. “Ek is bietjie sprakeloos. Ek het ʼn perfekte wedstryd gespeel,” het sy in die eerste onderhoud op die baan ná haar oorwinning gesê. “Ek is baie trots op dit wat ek vermag het. Dit was ʼn wonderlike twee weke.”

Vondroušová het Barty gelukgewens. “Geluk, Ash – jy het my vandag ʼn les geleer. Jy is ʼn wonderlike en ʼn baie gawe speler, jy verdien dit.”

Dominic Thiem het vroeër met 6-2, 3-6, 7-5, 5-7, 7-5 ʼn oorwinning oor Novak Djokovic behaal te midde van nog reën in die mans halfeindstryd. Hy kom Sondag teen Rafael Nadal te staan in die eindstryd, net soos verlede jaar. Die wedstryd is Vrydag in die derde stel opgeskort weens gure weer en is Saterdag ook in die vyfde stel onderbreek weens reën. Thiem kon nie verlede jaar die paal haal teen Nadal nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.