Australiese F1-wedren wéér van die baan

Foto: Glenn Nicholls/AFP.

Die Australiese Grand Prix is vir die tweede agtereenvolgende jaar deur die wêreldwye Covid-19-pandemie in die wiele gery.

Die gewilde wedren in Melbourne sou in November plaasgevind het, maar dit is nou weens die “beperkings en logistieke uitdagings wat Covid-19 teweeg bring” van die baan.

Volgens Australië se Grand Prix-beheerliggaam (AGPC) sal hulle met F1 en die plaaslike Victoria-regering saamwerk om ’n geskikte datum vir 2022 te kry.

Intussen het die F1-baas Stefano Domenicali gesê dat daar steeds ’n moontlikheid van 23 wedrenne vir die huidige seisoen is, ten spyte van die Australië-terugslag.

“Hoewel dit hartseer is dat ons nie hierdie seisoen in Australië kan jaag nie, is ons vol vertroue dat ons 23 wedrenne vanjaar sal kan aanbied. Daar is ’n hele paar maniere om die pad vorentoe aan te pak,” het Domenicali gesê.

Red Bull se Max Verstappen is tans die voorloper op die punteleer, gevolg deur die verdedigende wêreldkampioen Lewis Hamilton in sy Mercedes.

Die volgende wedren is op 18 Julie op die Silverstone-renbaan in Engeland.

  • Die Australiese Grand Prix is verlede jaar afgelas toe McLaren hom onttrek het nadat een van sy spanlede positief getoets het vir Covid-19. Selfs voordat die uiteindelike kansellasie aangekondig is, het Hamilton se Mercedes-span die FIA en F1 skriftelik versoek om die wedren te kanselleer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.