Australiese Ope: Djokovic lei Groot Drie se aanslag

Novak Djokovic van Serwië (26 Januarie 2020) (Foto: AP Photo/Andy Wong)

Dalk praat ʼn mens te gou, maar die speler wat die Serwiër Novak Djokovic in sy spore in die Australiese Ope kan stuit, sal na alle waarskynlik volgende Sondag as vanjaar se manskampioen gekroon word.

Djokovic, wat op soek is na sy agtste Australiese kroon, het Diego Schwartzman (14de gekeur) van Argentinië Sondag in Melbourne met 6-3 6-4 6-4 in die vierde ronde uitgeskakel. Dit is die 11de keer dat Djokovic die kwarteindronde haal en as ʼn mens in ag neem dat Schwartzman net een keer op Djokovic (in die tweede stel) se afslaan kon deurbreek,  gaan dit baie van die Kanadees Milos Raonic verg, teen wie Djokovic nou speel.

Raonic, met sy kanonafslane (hy het Sondag 35 kishoue geslaan), het die Kroaat Marin Cilic met 6-4 6-3 7-5 geklop.

Djokovic, ondanks sy redelik maklike oorwinning, het ʼn paar keer gebrom omdat hy nie so goed soos in sy vorige wedstryd teen die Japannees Yoshihito Nishioka gespeel het nie. Maar steeds weet hy hoe om homself reg te ruk, om die skroewe al vaster te draai, om nie toe te laat dat die klein jakkalsies chaos in die wingerd saai nie.

Switserland se Roger Federer (26 Januarie 2020) (Foto: AP Photo/Andy Wong)

* Die 38-jarige Roger Federer het ʼn bietjie laag gelê in die eerste stel van sy kragmeting met die Hongaar Marton Fucsopvics, voordat hy na die hoogste versnelling oorgeskakel het.

Federer, wat die Aussie-Ope reeds ses keer vantevore gewen het, het met 4-6 6-1 6-2 6-2 gewen en kom nou te staan teen die Amerikaner Tennys Sandgren.

Dit sal dwaas wees om Federer af te skryf, hoewel die krake begin wys.

Maar jinne, hy is reeds 38 en beweeg steeds soos ʼn jongeling en bly propvol energie.

Die derde lid van die Groot Drie, Rafael Nadal, het Saterdag al deurgedring en kom Maandag teen die vurige Australiër Nick Kyrgios te staan.

Sofia Kenin (regs) van die VSA en Coco Gauff (26 Januarie 2020) (Foto: AP Photo/Andy Brownbill)

* In die afdeling vir vroue het die sprokiesverhaal van die 15-jarige Amerikaner Coco Gauff tot ʼn einde gekom toe sy deur haar 20-jarige landgenoot Sofia Kenin met 6-7 (5-7) 6-3 6-0 geklop is … en toe in trane uitgebars het.

Dit het ʼn mens laat besef hoe goed die nuwe wonderkind van tennis die druk hanteer, hoe sy goed sy in haar tweede seisoen as beroepspeler vaar, hoeveel talent sy het.

Kenin speel in die kwarteindronde teen Tunisië se Ons Jabeur, wat geskiedenis gemaak het toe sy Wang Qiang (sy het Serena Williams uitgeskakel) geklop het.

Jabeur is die eerste speler van Arabiese afkoms wat tot die kwarteindronde van ʼn Grand Slam-toernooi kon deurdring. Om te dink dat sy ʼn paar jaar gelede wou ophou omdat sy genoeg vordering gemaak het nie.

Die plaaslike gunsteling en wêreld se voorste vroue-speler, Ashleigh Barty, moes diep delf teen die 18de gekeurde Amerikaner Alison Riske voordat sy met 6-3 1-6 6-4 kon deurdring.

Barty speel nou teen Petra Kvitova (Tsjeggiese Republiek) wat die Griekse speler Maria Sakkari met 6-7(4/7) 6-3 6-2 getroef het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.