Australiese Ope: Nadal sit sy segetog voort

Rafael Nadal – meedoënloos op koers. (Foto: Petr David Josek, AP)

Die Australiese Ope-tennistoernooi was nog net een keer tevore Rafael Nadal se suksesvolle jagveld, maar hy lyk byna onstuitbaar in vanjaar se toernooi in Melbourne, ondanks die ondraaglike hitte wat al tot 42 grade Celcius gestyg het.

Dié Spanjaard, wat met oorwinnings in 16 Grand Slam-toernooie spog, het Bosnië se Damir Dzumhur in Vrydag se derde ronde met 6-1,  6-3, 6-1 geklop. Nadal het vanjaar nog nie ʼn stel afgestaan nie en kom nou teen Diego Schwartzman van Argentinië, wat 26ste op die wêreldranglys is, te staan.

Die Argentyn is tot dusver segeloos in drie wedstryde teen Nadal.

As Nadal op sy vertonings voortbou, sal hy in die kwarteindronde teen die Kroaat Marin Čilić speel, wat die Amerikaner Ryan Harrison met 7-6 (7-4), 6-3, 7-6 (7-4) geklop het. As Nadal bly wen, kom hy in ʼn moontlike halfeind teen die Bulgaar Grigor Dimitrov en dan in die eindstryd teen Roger Federer van Switserland te staan.

Daar was ook goeie oorwinnings vir die vurige Aussie Nick Kyrgios wat Jo-Wilfried Tsonga in vier stelle geklop het nadat hy sy drie met ʼn valbylpot gewen het, en die Brit Kyle Edmund, wat behandeling vanweë hitte-uitputting moes kry.

♦  In die vroue-afdeling is die droom van die 15-jarige Marta Kostuyk daarmee heen nadat sy teen haar Kroatiese landgenoot Elina Svitolina met 6-2, 6-2 uitgeskakel is.

Die tiener, wat ʼn promotorskeuse was, is die jongste speler sedert 1996 (Martina Hingis) wat die derde ronde kon haal.

Anett Kontaveit van Estland het verras toe sy haar dubbelspelmaat en sewende gekeurde Jelena Ostapenko van Letland met 6-3, 1-6, 6-3 geklop het. Die tweede gekeurde Caroline Wozniacki van Denemarke het haar kragmeting met Kiki Bertens van Nederland met 6-4, 6-3 gewen en tree al hoe sterker as ʼn moontlike wenner na vore.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.