Australiese Ope: Russiese vaal seun al hoe meer na vore

Daniil Medvedev. Foto: Paul Crock/AFP.

Die Rus Daniil Medvedev, asook die Griek Stefanos Tsitsipas, het Saterdag in Melbourne albei tot die vierde ronde van die mansenkelspel van vanjaar se Australiese Ope-tennistoernooi deurgedring.

Medvedev, wat tweede gekeur is en ook die tweede posisie agter die omstrede Serwiër Novak Djokovic op die wêreldranglys beklee, het die Nederlander Botic van de Zandschulp, wat 57ste op die wêreldranglys is, binne ʼn japtrap met 6-4 6-4 6-2 geklop.

Tsitsipas het veel kwaaier teenstand by die vurige Fransman Benoit Paire gekry en het in vier stelle met 6-3 7-5 6-7 (2-7) 6-4 geseëvier.

Medvedev kom nou teen die onbesonge Amerikaner Maxime Cressy te staan terwyl die gevaarlike Amerikaner Taylor Fritz op Tsitsipas wag.

Maxime het die Australiër Christoper O’Connell uitgeskakel terwyl Fritz die 15de gekeurde Spanjaard Roberto Bautista Agut in vyf stelle met 6-0 3-6 3-6 6-4 6-3 uitgeskakel het.

Afgesien van die Spanjaard Rafael Nadal en die Duitser Alexander Zverev (wat albei in die ander helfte van die loting meeding) is Medvedev beslis een van die groot gunstelinge in vanjaar se toernooi.

Hy mag dalk soos ʼn vaal seun lyk en voorkom, maar met sy vaardighede skort daar absoluut niks nie, want hy is meedoënloos, slaan baie goed af en beweeg baie goed.

Tsitsipas is die teenoorgestelde met sy lang hare en is ʼn bondel energie.

Aryna Sabalenka tydens die Australiese Ope (22 Januarie 2022) (Foto: Paul Crock/AFP)

* In die afdeling vir vroue het die tweede gekeurde Aryna Sabalenka van Belarus tot die vierde ronde deurgedring toe sy Marketa Vondrousova van die Tsjeggiese Republiek met 4-6 6-3 6-1 uitgeskakel het. Sy kom nou teen Kaia Kanepi van Estland te staan, wat die promotorskeuse Maddison Inglis met 2-6 6-2 6-0 geklop het.

Sabalenka is naas die plaaslike heldin, Ashleigh Barty (wat reeds Vrydag tot die vierde ronde deurgedring het), een van die gunstelinge.

Sabalenka het in 2021 haar groot deurbraak gemaak toe sy die halfeindrondes op Wimbledon en by die Amerikaanse Ope in New York gehaal het.

Maar haar groot remskoen is haar afslane, nadat sy reeds 70 dubbelfoute vanjaar begaan het. Dit sluit in 31 in haar eerste twee wedstryde in die Aussie Ope.

Die Roemeen Simona Halep (14de gekeur) het ook geskitter en het Danka Kovinic van Montenegro met 6-2 6-1 van die baan af gevee.

Halep kom nou te staan teen Alize Cornet van Frankryk, wat Tamara Zidabnsek van Slowenië met 4-6 6-4 6-2 geklop het.

Halep is nog onoorwonne in agt wedstryde vanjaar en het nog nie ʼn stel in Melbourne afgestaan nie. Sy het net 12 potte in haar eerste drie wedstryde verloor.

Hou haar vordering maar gerus dop!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.