Bafana Bafana nou ook breierloos

Stuart Baxter. Foto: Facebook.

’n Paar weke nadat Bafana Bafana vir die kwarteindstryd van die Afrikanasiesbeker gekwalifiseer het, het hul afrigter, Stuart Baxter, bedank.

Die 65-jarige Brit het vandag tydens ’n mediakonferensie sy bedanking aangekondig. Die bedanking is onmiddellik van krag.

Baxter is in Mei 2017 vir die tweede keer as Bafana-breier aangestel, met die mandaat om die span na die 2022‑Wêreldbekersokkertoernooi in Katar te lei. Sy rekord aan die stuur van die nasionale span was egter nie té waffers nie.

In 21 wedstryde kon sy span net agt keer wen; ’n wenpersentasie van slegs 38%.

Ten spyte van dié rekord het die span een van hul beter vertonings in jare by die Afrikanasiesbeker in Egipte gelewer – hulle het onder andere die gasheerland 1 – 0 gewen. Tog het hulle net-net tot die kwarteindstryd deurgedring en die media het saam met ondersteuners sy kop geëis.

Baxter het vroeër nie saam met die span ná hul Egiptiese avontuur na Suid-Afrika teruggekeer nie, maar het eerder in Swede gaan vakansie hou.

“Die bedanking was my persoonlike keuse. Iemand moet egter met dié projek voortgaan, daarom bedank ek vandag as afrigter,” het Baxter in die mediakonferensie gesê.

“Dit was ’n voorreg om met die nasionale span te werk en ek glo nie iemand kon meer as ek gedoen het nie – ek het in Europa gaan spelers identifiseer, ensovoorts. Ek dink SAFA het ’n blink toekoms, maar ons almal moet dan op dieselfde bladsy wees en die nasionale span ondersteun.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johanna Botha

Eers Barnes nou Baxter ….kom net weg dit in n gemors !

Swartwolf

Want hy kan nie met die bafanatjies werk nie. Te arrogant en ongedissiplineerd. Lost case.

Piesang

Dis altyd iemand anders se skuld, nooit jou eie treurige patetiese onvermoë nie.

Barry

Banana-Banana klink dalk na ‘n beter keuse.