Bande brand by Formule Een

Mercedes se Britse drywer Lewis Hamilton vier sy oorwinning van die Bahrain Formula One Grand Prix. (Foto: Lars Baron /AFP)

Lewis Hamilton het weereens koning gekraai in die Formule Een-wedren. Dít nadat die 23-jarige Max Verstappen (Red Bull) die sewemalige wêreldkampioen Sondag in Bahrein uitgedaag en tot die heel uiterste beproef het.

Hamilton het egter die eerste ren in vanjaar se reeks naelskraap met 0,745 sekondes gewen.

Verstappen was in Hamilton se truspieëltjie, met Valtteri Bottas (Mercedes) derde, gevolg deur Lando Norris (McLaren), Sergio Perez (Red Bull) en Charles Leclerc (Ferrari).

Dit was vroeg reeds duidelik dat vanjaar se kampioenskappe deur bandestrategieë en kuipestoppe bepaal gaan word.

Die ren is reeds in die derde draai ontwrig toe die Rus Nikita Mazepin (Haas) ʼn ongeluk gemaak het en die veiligheidsmotor vir ʼn paar rondtes ontplooi is met Verstappen eerste en Hamilton tweede.

Die Mercedes-spanlede het vroeg hul kaarte gespeel toe Hamilton kuipe toe is om sy harde bande met ʼn stel nuwe harde bande te vervang.

Mercedes se Britse drywer Lewis Hamilton vat die voortou by die Bahrain Formula One Grand Prix. (Foto: Giuseppe Cacace /AFP)

Daarteenoor het Red Bull vir Verstappen vir ʼn paar rondtes langer op die baan gehou en toe sy bande met ʼn stel mediums vervang.

Mercedes wou intussen vir Bottas as lokaas gebruik om Verstappen in toom te hou, maar ʼn lang kuipestop waartydens hulle gesukkel het om sy voorste regterband betyds af te kry, het dié strategie gekelder.

Verstappen was gerieflik voor, maar is in die 40ste rondte vir ʼn  tweede keer kuipe toe om bande te ruil.

Dit het die deur vir Hamilton oopgelaat om voor te bly, mits sy bande sou hou.

Verstappen het Hamilton ingehaal en kort voor die einde verbygesteek, maar hy is deur die wedrendirekteur, Michael Masi, beveel om die voorsprong aan Hamilton terug te besorg omdat ʼn deel van sy motor van die baan was (ook maar net-net) terwyl  hy Hamilton verbygesteek het.

So het sake gestaan tot aan die einde van die wedren.

*Hamilton het in die 41ste rondte nog ʼn rekord van Michael Schumacher laat spat toe hy vir altesame 5 112 rondtes in Formule Een-renne voorgeloop het.

Van Schumacher gepraat. Sy seun, Mick, het in sy eerste F1-ren 16de (en laaste) geëindig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Racheltjie Debeer ·

Klink of daai wedrendirekteur ‘n Hamilton ondersteuner is!!

Stephen ·

Opskrif is verwarrend. Vir n oomblik gedink die ANC/EFF het daar betoog!

Lourens ·

Mick was 16e uit 22 wat weggespring het, waarvan 18 klaargemaak het, dus NIE laaste nie.

Piet ·

Hys irriterend, maar hy is uitstekend. Max gaan sy hande vol hê om hom te klop

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.