Barty sal nie haar Franse Ope-titel verdedig

Ashleigh Barty het verlede jaar die Franse Ope gewen. Foto: Twitter.

Die wêreld se voorste vrouetennisspeler, Australië se Ashleigh Barty, sal nie haar Franse Ope-titel later vandeesmaand verdedig nie.

Die 24-jarige het op haar amptelike Instagram-rekening gesê dat die wêreldwye Covid-19-pandemie onder meer ’n invloed op haar besluit gehad het, terwyl sy wat tennis betref ook nie goed voorbereid is nie.

“Dit was ’n moeilike besluit, maar ek sal ongelukkig nie in Europa in aksie wees nie. Verlede jaar se Franse Ope was die mees spesiale toernooi van my loopbaan en ek het nie hierdie besluit ligtelik geneem nie,” het Barty op haar Instagram-rekening gesê.

Buiten die gesondheidsrisiko wat die pandemie inhou, kon sy ook nie doeltreffend vir die toernooi voorberei nie. Australië se binnelandse grense is gesluit en Barty – ’n inwoner van Brisbane – kon nie haar afrigter in Melbourne besoek nie.

“Ek sien nou na ’n lang voorseisoen en somer in Australië uit. Dit is ’n uitdagende jaar vir almal en hoewel ek op die tennisfront teleurgesteld is, is die gesondheid van my familie en span my hoofprioriteit. Dankie vir almal se volgehoue ondersteuning, ek kan nie wag om weer vir julle te speel nie.”

Die Franse Ope sal op 27 September in Parys begin en volgens die plaaslike owerhede sal toeskouers wel gedurende die toernooi toegelaat word.

Altesaam 11 500 toeskouers sal die wedstryde mag bywoon en streng gesondheidsmaatreëls sal deurgaans gehandhaaf word.

Die toeskouers sal in drie afdelings verdeel word om na wedstryde op Roland Garros se drie bane te kyk. Ondersteuners sal dan kaartjies vir een van die afdelings kry en hulle sal daar vir die dag se spel moet bly, terwyl die dra van maskers verpligtend is.

Spelers en beamptes sal ook gereeld getoets word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.