Begin jou Ope-veldtog op die regte voet

Katrin Davidsdottir is een van die CrossFit-sterre. Foto: Twitter.

Die wêreldwye CrossFit-ope begin oor net meer as 70 dae en fiksheidsentoesiaste kry dan die geleentheid om indirek teen van die sportsoort se grootste sterre (lees Justin Medeiros, Haley Adams en Katrin Davidsdottir) mee te ding.

En waar niemand in 2007 juis veel van die CrossFit-spele geweet het nie, is daar deesdae maklik wêreldwyd meer as 400 000 atlete wat met eelt-gelooide en kalkbesmeerde hande probeer om daardie ekstra optrek te doen: Alles in ’n poging om hul vliegtuigkaartjie na Madison, Wisconsin, te bespreek… die tuiste van die Spele.

Die lekker ding van die Ope-kompetisie is dat jy ook nie oor bo-menslike fiksheid hoef te beskik om die hele affêre te geniet nie.

Martyn Pullinger is een van die instrukteurs by Willow Way CrossFit in Pretoria en hy het meer as genoeg fikswordkennis.

Hy is reeds vir vyf jaar ’n voltydse instrukteur, terwyl hy op 24 Februarie 2022 aan sy negende Ope-kompetisie sal deelneem.

Martyn Pullinger. Foto: Verskaf.

“Daar is natuurlik die groter prentjie dat jy aan ’n wêreldwye kompetisie deelneem, maar dit is terselfdertyd baie inspirerend om te sien hoe van die lede iets heeltemal buite hul gemaksone aanpak en dan boonop ook nog presteer,” het Pullinger gesê.

Riaan Hofmeyr van CrossFit RedShack stem met hom saam.

“Met die Ope kry jy die geleentheid om aan dieselfde kompetisie as jou helde deel te neem. Jou 20 000ste plek op die uiteindelike ranglys beteken dalk vir jou net soveel as hul tweede plek.”

Dan is introspeksie ook baie belangrik: Jy moet weet hoe fiks jy is.

“Kies ’n kategorie wat by jou huidige vermoë pas. Ons almal wil graag verbeter en sterker wees, maar dit verg baie tyd en harde werk om al die bewegings veilig en korrek te doen,” meen Pullinger.

Met ander woorde, dit help veel jy kry een van die spesifieke oefeningvereistes sonder veel moeite reg, maar moet vir die volgende tien minute na die gimnastiekringe staar want jy het geen idee wat om daarmee te doen nie.

Riaan Hofmeyr. Foto: Verskaf.

“Weet waarom jy inskryf. As jy dit sommer net vir die pret doen, geniet die feit dat jy deel van ’n groot kompetisie is. Maar as jy jouself as ’n CrossFit-atleet wil bewys, moes jy eintlik al twee jaar gelede begin oefen het en baie opofferings gemaak het. Jy word nie oornag die fiksste mens op aarde of een van die topatlete nie,” het Hofmeyr bygevoeg.

Ruan Potgieter was die negende beste atleet ter wêreld in die eerste oefensessie van die 2021-Ope.

“Die grootste gedeelte van die CrossFit Spele-seisoen gaan maar met spanning gepaard, maar die Ope kan jy saam met jou vriende aanpak of jy kan jouself teen jou vorige vertoning meet,” het Potgieter gesê.

Volgens Dina Swift is bestendigheid die wagwoord voordat jy die Ope se oefensessies aanpak.

“Klasbywoning sal seker voldoende wees, maar as jy ’n bietjie ekstra werk wil insit, stel ek voor dat jy gaan draf. Die oefensessies is normaalweg taai, maar doenbaar: Daarom behoort fiksheid jou beste vriend te wees.”

Volgens Pullinger is dit belangrik dat jy nie soos ’n vetgesmeerde blits met die oefensessies wegtrek nie.

Dina Swift was by die 2019-Spele in aksie. Foto: Verskaf.

“Oudergewoonte is dit ’n toets vir elke faset van jou fiksheid en dit sal slim wees om dit teen ’n pas aan te pak waarmee jy gemaklik is. Maar die belangrikste is om dit te geniet – wees trots op jouself en deel in ander se vreugde.”

Watter beweging behoort sonder enige twyfel deel van die oefensessies te wees?

“Beslis ’n thruster,” is Daniel Griesel se onmiddellike antwoord.

“Ek sal nooit ’n Kersete verby laat gaan nie want dit is petrol vir jou oefenvuur,” gaan hy laggend voort.

“Maar terselfdertyd is my raad ook om nie sommer ’n oefensessie mis te loop nie. Gereelde oefening is immers die beste oefening!”

Die CrossFit Ope begin op 24 Februarie 2022 en belangstellendes kan vanaf 13 Januarie hier inskryf.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.