Bergfiets-belewenis in Barberton

Foto: Verskaf.

Die XCM-bergfietswedren is al ’n Laeveldse sportinstelling en die speke gaan weer hierdie naweek in Barberton sing.

Die 26ste weergawe van dié gewilde bergfietswedren begin Saterdag in dié dorp in Mpumalanga en deelnemers kan tussen afstande van 110 km, 77 km, 50 km, 30 km en 20 km kies.

Moet egter nie dink dat dit met ’n maklike oefensessie om ’n paar blokke vergelyk kan word nie – die Laeveld is immers bergwêreld en selfs die hardebaard-trappers sal by tye hul trapstorie moet ken.

Die roetes sal bergfietsryers deur ’n verskeidenheid van interessante terreine neem; van die Greenstone-wildlewelandgoed tot plantasies en ’n wêrelderfenisgebied.

Wat die wedren so uniek maak, is nie net die lang klimme en pragtige natuur nie – jy kan selfs tot in Swaziland sien as jy genoeg tyd het om rond te kyk – maar eerder die uitdagende terrein wat deelnemers se fiksheid tot die uiterste sal beproef.

Soos wat die organiseerders tereg sê: Die XCM-bergfietswedren mag dalk nie so delikaat soos ’n Barbertonse madeliefie wees nie, maar dit sal ongetwyfeld ’n belewenis vir elke deelnemer wees.

  • Die wedren vind op 7 Mei plaas.
  • Voorafinskrywings sluit vanaand om 23:00, laatinskrywings is steeds welkom.
  • Indien jy laat geslaap het met die inskrywingsproses kan jy op 6 Mei by die Mopani-apteek tussen 10:00 en 13:00 en Hoërskool Barberton tussen 13:00 en 21:00 inskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jakkie ·

Ek gaan die 50km doen. Ek weet nogsteeds nie wat besiel my nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.