‘Beseerde’ Gastelum belemmer Stillknocks-geveg

Dricus du Plessis. Foto: Twitter.

Verskoon tog die hoërskoolleerder-taalgebruik, maar Dricus “Stillknocks” du Plessis moet ongetwyfeld al “oor” die UFC-teleurstelling wees.

Die talentvolle Suid-Afrikaner sou hierdie naweek teen Kelvin Gastelum in Jacksonville kragte gemeet het, maar die Amerikaner het hom op die laaste nippertjie met ’n geheimsinnige besering onttrek.

“Dit is nie net ’n teleurstelling vir my en die span wat ná ’n groot voorbereidingskamp al die pad na die VSA gereis het nie, maar ook vir die hele Suid-Afrika wat my in aksie wou sien,” het Du Plessis op sosiale media gesê.

Die Pretorianer sou aanvanklik teen Chris Curtis te staan gekom het, maar hy het óók die aftog met ’n besering geblaas.

“Dit is gemengdegevegskuns en ’n kontaksport dié; beserings is maar soms jou voorland. Ek wens al twee my teenstanders beterskap toe.”

Volgens oorsese mediaberigte kon Gastelum nie ’n presiese beskrywing van sy besering gee nie. Hy het egter later op sosiale media gesê dat hy wens die beseringnuus was eerder ’n Gekkedag-grap.

“Ek is aangeraai om nie veel besonderhede oor die presiese omvang van die besering te verklap nie. Maar ek sal nie in my huidige toestand kan deelneem nie,” het Gastelum gesê.

Hy het Du Plessis ook vir sy bereidwilligheid bedank.

“Ek was so dankbaar toe jy aangedui het dat jy teen my sal veg. Ek is jammer vir die wyse waarop dinge toe uitgedraai het.”

Maar in ’n onderhoud met The MMA Hour het die Suid-Afrikaner nie doekies omgedraai nie.

“Gastelum het te lank gedraai om die geveg te kanselleer. Niemand sal op só ’n kort kennisgewing ’n gevegsuitnodiging aanvaar nie en hier sê hy – so wragties ’n week voor die geveg – dat hy beseer is.”

Volgens Du Plessis sal hy vir vier weke in die VSA aanbly om te kyk of ’n geleentheid iewers opduik.

“Dít is net nog ’n klein struikelblok in my pad om die volgende wêreldkampioen in my gewigsklas te word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.