Besering belemmer Stillknocks se Muniz-geveg

Dricus du Plessis vier sy oorwinning nadat hy vir Trevin Giles in Las Vegas uitgeslaan het (Foto: UFC/Twitter)

’n Ontydige besering het gesorg dat Dricus “Stillknocks” du Plessis se geveg teen André Muniz by UFC269 vir eers van die baan is.

“Dit is niks lekker om hierdie aankondiging te maak nie, maar my geveg op 11 Desember is af. Ek is in die eerste week van my oefenkamp beseer en ek gaan hierdie Vrydag vir ’n operasie,” het hy op sosiale media gedeel.

Du Plessis is tot dusver onoorwonne in sy UFC-loopbaan nadat hy vroeër met Markus Perez en Trevin Giles klaargespeel het. Hy het vantevore ook geen geheim van die feit gemaak dat hy ’n UFC-titel terug na Suid-Afrika wil bring nie.

“Hierdie is ’n geringe terugslag op my pad na die titel en ek sal sterker as ooit terug wees. Baie dankie vir almal se liefde en ondersteuning.”

Dit is nie die eerste keer dat ’n terugslag vir Du Plessis kort vóór ’n geveg tref nie.

Die gemengdegevegskuns-ster se aanvanklike geveg teen Giles het deur die mat geval omdat hy nie betyds sy visum kon kry nie. Hy beplan egter om weer Maart volgende jaar terug in die hok te wees.

Eryk Anders, ’n 34-jarige Amerikaner, sal nou op 11 Desember teen Muniz kragte meet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Malan ·

Hierdie jongman het murg in sy pype. Hy sal nog die kampioen word. Sterkte.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.